Suikermielie Verbouing

© Roger DelaHarpe

Voortplanting

Die suikermielie plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Saad moet 4 cm diep geplant word om te verseker dat, vir effektiewe ontkieming, die boonste grondtemperatuur so gou moontlik na planttyd 16 - 20°C bereik. Dit is belangrik om al die saad op hierdie diepte te plant sodat al die plante dieselfde groei. Die eenvormigheid van die plante dra tot ’n suksesvolle oes by. Suikermielie saad kan in kommersiële boerderye meganies of in kleiner boerderye met die hand gesaai word.

Spasiëring

Suikermielies moet 20 – 30 cm uitmekaar in rye wat 80 – 100 cm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer 40 000 tot 60 000 plante per hektaar.

Saaityd

In Suid-Afrika moet die mieliesaad van Augustus tot Maart of selfs vroeg April in warm gebiede met laat winters en geen ryp nie gesaai word.

Groeiperiode

Suikermielies is vanaf 10 tot 12 weke, indien die klimaat warm is en die toestande ideaal, gereed om geoes te word. As die temperature kouer is tydens die groeiperiode kan die mielie-oes uitgestel word tot 14 weke. Die blomstadium en vorming van die pluim bo-aan die plant vind op ongeveer 6 tot 7 weke vanaf planttyd plaas en oestyd is omtrent 3 weke daarna.
Onder ideale omstandighede kan die nuwe verskeidenheid variëteite op 8 - 9 weke na planttyd geoes word. Sommige produsente het selfs tot twee opbrengste per jaar.

Bemesting

©Louise Brodie
Tydens planttyd dien 800 - 1000 kg 2: 3: 2 (22) N: P: K mengsel per hektaar toe. Dit kan gedoen word wanneer die area onmiddellik voor planttyd gelyk gemaak word. Dit verryk die grond met die drie hoof makrovoedingstowwe naamlik stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K). Drie weke na planttyd, sodra die plante gevestig is, moet bykomende stikstof in die vorm van 400 - 500 kg KAN per hektaar toegedien word om groei te verbeter en die plante te versterk.
Voor blomtyd, ongeveer 6 tot 7 weke in die groeiperiode, moet ’n verdere 400 - 500 kg 1: 0: 1 (29) toegedien word. Dit verskaf stikstof vir groei en kalium vir goeie mieliekop en mieliepit ontwikkeling.

Besproeiing

Besproei onmiddellik nadat die suikermielie saad gesaai is. Moenie te veel besproei nie aangesien dit die grond sal afkoel en ontkieming sal belemmer. Sodra die plante begin groei het en die wortels gevestig is, moet die besproeiing tydens die groeiperiode vermeerder word na 25 - 35 mm per week.
Onthou dat sandgrond vinniger sal dreineer en meer gereelde besproeiing sal benodig tydens die groeiperiode. Aan die ander kant sal kleigrond weer minder water benodig. Moet nie die gewas ’n week voor oestyd natmaak nie.
Die grondvog moet gereeld gemonitor word. Dit word met ’n graaf of geïnstalleerde vogmeters gedoen.

Translated by Ananda Schoeman