Suikermielie

© Louise Brodie

Algemene Suikermielie
Wetenskaplike naam: Zea mays L. var. rugosa

Plant Beskrywing

Mielies het vermoedelik in Sentraal-Amerika ontstaan en is eers in die 16de en 17de eeu in Afrika aangeplant. Suikermielies is ’n mutasie van tradisionele mielies en het ten minste dubbel die suikerinhoud.
Dit is ’n gras en het ’n sterk, stewige stam. Die blare ontwikkel uit die stam en die blom of pluim vorm aan die bokant van die stam. Dit bestuif die vroulike koppe wat uit die onderste knope aan die basis van die blare groei. Die plant dra een tot twee mieliekoppe wat uit die basis van die skutblare vorm.

Gebruike

Suikermielies word vars, gekook of gerooster. Die mieliepitte word ook van die koppe afgestroop en onmiddellik na die oes gevries of geblik.

Grondvereistes en Voorbereiding

©Louise Brodie
Suikermielies benodig goed gedreineerde sanderige leemgrond met ’n goeie organiese inhoud en ’n pH tussen 6 en 7. Begin die grond vroegtydig voorberei. ’n Kort rukkie na die vorige gewas geoes is. Ongeveer 3 tot 4 maande voor aanplanting kan enige organiese kompos en bemesting toegedien word en saam met die vorige gewas se oorblyfsels en onkruid tot ’n diepte van 500 mm ingeploeg word. Daarna moet ’n groen dekgewas geplant en die saad in die boonste 10 mm grond ingewerk word. Sodra die dekgewas groei dien 100 kg KAN per hektaar toe om groei aan te help.
Twee maande voor planttyd moet grondmonsters geneem en deur ’n laboratorium ontleed word. Omtrent drie tot vier weke na die dekgewas geplant is moet dit afgesny word en die nodige voeding toegedien word. Dit kan gips vir kalsium, kalk vir die pH of die nodige organiese materiaal in die vorm van mis of kompos wees. Ploeg die grond tot ongeveer 500 mm om sodat alles deeglik ingemeng is.
Sewe dae voor planttyd moet die laaste kunsmis met ’n skotteleg in die boonste 20 cm grond ingeploeg word en die onkruid wat moontlik gegroei het uitgewis word. Spoorelemente soos boor en sink wat na die grondanalise voorgestel is moet ook nou in die boonste grond ingewerk word. Hierna is die area gereed vir die saad.

Klimaat

Die suikermielie is ’n warm-klimaat gewas en sensitief vir ryp. Dit groei goed as die temperatuur tussen 18°C en 28°C is. Om die saad suksesvol te laat ontkiem en eenvormig te wees moet die grondtemperatuur 16°C wees. Suikermielies se groei, kop en pit ontwikkeling word nadelig beïnvloed wanneer temperature onder 10°C daal of 35°C oorskry.

Kultivars

Variëteite beskikbaar is Samurai, Golden sweet, Star 7702, Star 7708, Paradise, Prolific en Challenger.

Translated by Ananda Schoeman