Suikermielie Gewasbestuur

© Eric Miller

Wisselbou

Dit is altyd raadsaam om gewasse af te wissel en sodoende die opbou van sekere plae en siektes te voorkom. Wissel die suikermielie met sojabone, aartappels, blaargroentes, koring en lusern af.

Opbrengs (ton per hektaar)

©Louise Brodie
Konserwatief: 10 ton
Gemiddeld: 15 ton
Goed: 25 ton

Oes

Oes suikermielies as die mieliekoppe effens onvolwasse is aangesien die grootste hoeveelheid vars verkoop word. Afhangende van die kultivar en weerstoestande gedurende die groeiperiode is dit gewoonlik tussen 9 en 14 weke na planttyd. Koeler weer vertraag groei en verleng die groeiperiode.
Suikermielies word geoes as die pitte ’n melkerige sap het, dit word die “melkstadium” genoem. Breek die pitte effens met jou vingernael om die kleur van die sap vas te stel. Indien dit nog helder is, is die suikermielie nie ryp nie. Die baard bo-op die suikermielie sal bruin wees. Die regte oestyd is baie belangrik, want die pitte kan begin droog word en hulle soet smaak verloor.
In ’n groot kommersiële boerdery word daar meganies geoes en in ’n kleiner boerdery met die hand.

Berging

Suikermielies moet sodra dit geoes is verkoel word en so gou moontlik verkoop word. Stoor suikermielies by 0 - 2°C en ’n relatiewe humiditeit van 95%+. Dit kan tot 10 dae lank by hierdie temperatuur en humiditeit gebêre word sonder om kwaliteit in te boet. Daarna gaan die smaak en suikerinhoud verlore. As ’n suikermielie dan by kamertemperatuur gehou word, verloor dit sy kwaliteit en word oneetbaar.

Plae

Algemene plae is die bolwurm (bollworm), plantluis (aphid), aalwurm (nematode), stamboorder (stalk borer), rooispinmyt (spider mite), snywurm (cutworm) en blaarspringer (leaf hopper).

Siektes

Algemene siektes is blaarskroei (leaf blight), mieliestreepsiekte (streak virus), roes (rust), kopvrot (ear and stalk rot) en grysblaarvlek (grey leaf spot).
Vir die gepaste voorkoming en bestryding van siektes en plae is dit raadsaam om die aanbevelings van u plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of u chemiese maatskappy se adviseur te volg.

Translated by Ananda Schoeman