Seldery Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Seldery plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Selderysaad kan direk in die land gesaai word, maar die meeste produsente verkies dit om saailinge te kweek en uit te plant. Selderysaad is baie klein en dus moeilik om eweredig te saai. Dit moet vlak gesaai word, omtrent 3 – 4 mm diep. Seldery kan met die hand of ’n meganiese planter geplant word.

Spasiëring

Seldery plante moet 15 – 20 cm uitmekaar in rye wat 30 cm van mekaar af is geplant word. Dit is ongeveer 100 000 tot 150 000 plante per hektaar. Afhangende van die plaasimplemente se groottes moet daar paaie tussenin gelos word vir voertuie en oesmasjiene.

Saaityd

Saai selderysaad gedurende Julie in saadkassies en aan die einde van Augustus in die land. Jong seldery saailinge moet nie aan ryp blootgestel word nie aangesien dit die plante kan laat vrek. Saailinge word gewoonlik 6 tot 8 weke na saaityd uitgeplant.

Planttyd

Die beste tyd om seldery saailinge uit te plant is middel September as die ergste koue en ryp verby is. Dit los genoeg tyd vir oes voor die intense somerhitte.

Groeiperiode

Tussen 12 en 16 weke nadat die seldery saailinge uitgeplant is, kan dit geoes word. Indien direkte saai toegepas is neem dit omtrent vier maande voordat daar geoes kan word.

Bemesting

Ongeveer agt weke voor planttyd moet superfosfate in die grond ingeploeg word. In die laaste week voor planttyd moet ’n mengsel van stikstof en kalium toegedien word en met ’n skotteleg in die boonste 20 cm grond ingeploeg word. Dit kan in die vorm van 500 - 750 kg 1:0:1 (36) wees. Dit sal gedurende die eerste maand aan die saailinge die nodige voedingstowwe gee om wortelontwikkeling en groei te bevorder.
Vier weke na aanplanting kan ’n verder applikasie van 300 kg 1:0:1 (36) langs die plantrye toegedien word. ’n Verdere vier weke later en vier weke voor oestyd moet ’n finale bemesting van 300 kg 1:0:1 (36) langs die plantrye toegedien word. Na elke toediening moet die grond deeglik natgemaak word. Die bemesting kan ook volgens die grondanalise se aanbevelings deur drupstelsels toegedien word.

Besproeiing

Besproeiing kan in die vorm van statiese sproeiers, sproeiers op ’n spilstelsel, mikrojet-besproeiing, drupstelsels op die oppervlak van die rye of in sommige gevalle ondergronds langs die plantrye wees.
Die dag voordat seldery saailinge uitgeplant word moet daar omtrent 20 mm water toegedien word en direk na uitplanting 10 mm. As daar direk saad gesaai is, moet die bogrond klam gehou word met meer gereelde laer volumes besproeiing totdat die sade ontkiem en wortel geskiet het. Langer besproeiings periodes kan soos die saailinge sterker word toegepas word. Sodra die plante gevestig is, kan daar omtrent 25 – 35 mm water per week gegee word. Omdat seldery ’n vlak wortelstelsel het is dit raadsaam om twee keer ’n week die plante nat te maak.

Translated by Ananda Schoeman