Seldery

© Louise Brodie

Naam: Seldery
Wetenskaplike Naam: Apium graveolens

Plant Beskrywing

Seldery behoort aan die Apiaceae familie en is verwant aan pietersielie, witwortels, koljander en geelwortels. Dit kom oorspronklik van die Mediterreense gebiede af. Dit is ’n tweejarige plant, maar vir vars produksie word dit jaarliks aangeplant en geoes. Die plant ontwikkel van ’n bolvormige basis op grondvlak tot die bos stingels of blaarstele met fyn sagte blare op die punte. Die stingels is die hoof eetbare deel van die plant. Seldery word gewoonlik as dit 40 – 50 cm lank is geoes. Die wortelstelsel bestaan uit ’n penwortel met ’n massa fyn veselagtige sywortels wat in die boonste 20 cm onder die grondoppervlak geleë is. Dit produseer gewoonlik blomme en sade in die tweede jaar.

Gebruike

Seldery word meestal as ’n geurmiddel in sop en bredies gebruik. Dit word ook rou in slaaie of gaar as ’n groente geëet. Seldery bevat nie baie vitamiene of voedingstowwe nie en is ook nie ryk aan koolhidrate nie. Dit bevat meestal vesel en water en is dus ’n gunsteling vir gewigsverliesprogramme.
Die seldery-sade word fyngemaak en in sout gebruik. Dit bevat ’n olie wat in parfuum en as ’n geneesmiddel gebruik word. Dit breek uriensuur in die bloed af en help dus vir jig, artritis en rumatiek.

Grondvereistes en Voorbereiding

Seldery gedy in goed dreinerende sanderige leemgrond met voldoende organiese materiaal vir vog en die hou van voedingstowwe. Dit vereis ’n effense suurgrond met ’n pH van 6 tot 6.5.
Ses weke voor planttyd moet die area tot minstens 500 mm diep omgeploeg word. Indien nodig moet daar gedurende hierdie tyd kalk sowel as enige kompos, mis, gips en superfosfate toegedien word. As ’n groen dekgewas geplant is, moet dit nou afgesny en in die grond ingewerk word.
’n Week voor planttyd moet die area met ’n skotteleg omgeploeg word en gelykgemaak word. Dit verwyder ook enige onkruid. Vir goeie wortelontwikkeling moet die saadbeddings skoon, los en sonder enige klonte, onkruid of plantafval in die bogrond wees.

Klimaat

Seldery gedy in ’n koel klimaat met geen ryp nie en temperature van 15 - 24°C. As die temperatuur tydens die groeiperiode vir lang periodes bo 25°C is word die seldery bitter en meer veselagtig.

Kultivars

©Louise Brodie
Die twee hooftipes seldery is blaar seldery en knolseldery. Gewilde kultivars is Utah, Golden Pascal, Stetham en Peppermint.

Translated by Ananda Schoeman