Ons het na die Oos-Kaap gereis om Felicia Mfamana op te spoor sodat ons die area kon sien waar etlike van die oumas van Grandmothers Against Poverty and Aids (GAPA) grootgeword het.
Die ooreenkoms was dat Alicia ons sou ontmoet buite die ABSA bank naby die ingang van die dorpie, Cofimvaba. Met ons aankoms het ons ‘n klein, regop figuurtjie buite die bank gesien. Van ver af het sy te jonk en fiks gelyk om een van die oumas te wees.
Maar die vrou het die pers sybokhaar beret gedra wat ons dikwels gesien het Felicia dra, en jou waarlik, dit was sy. ‘O, ek is so opgewonde dat julle gekom het,’ het sy gesê, breed geglimlag en ons onmiddellik voorgestel aan ‘n nuuskierige buurvrou wat verbygestap het.
Ons het met ons gehuurde motor al met ‘n lang, stamperige paadjie gery tot by die dorpie waar sy gebly het. Dis ‘n verafgeleë plek waar plaaslike inwoners nie kan uitkom op Sondae wanneer taxi’s nie beskikbaar is nie, of gedurende die reënseisoen nie.
Vanaf haar voorvaderlike huis het Alicia ‘n verruklike uitsig oor die vallei waarin die dorpie lê. In die verte is die woude waar haar dogter Nomanani elke week hout gaan bymekaarmaak wat sy in ‘n bondel op haar kop terugdra, en net agter die woude is daar berge.
Rondom haar huis is die rondawels van haar dorpie wat turkoois, pienk en geel geverf is, daardie alomteenwoordige kleure in dorpies in die Oos-Kaap. Daar is stilte behalwe vir die geluide van voëls in die gras, die ritselende wind en, af en toe, die groet van ‘n buurvrou wat verbystap. Die omgewing is pragtig, maar die Mfamanas, soos soveel andere in die Oos-Kaap, is brandarm.
Felicia het ‘n familie in Kaapstad en een hier in die dorpie wat sy moet help onderhou. Sy is verdeel tussen die twee. Die gedeelte in Khayelitsha waar sy woon is baie arm, haar straat diggepak met huisies en misdaad is aan die orde van die dag, sê sy. Haar hart is hier, in haar dorpie, maar die kinders in Kaapstad het haar ook nodig.
Later het ons haar geneem om by haar suster te gaan kuier in ‘n nabygeleë dorpie. Toe ons motor nie verder kon gaan op die tweespoorpaadjie nie, het ons haar afgelaai. ‘Dis goed, dis glad nie meer ver nie,’ het sy gesê, haar gesig so opgeruimd soos altyd.
Ons het haar dopgehou terwyl sy teen die bult afgestap het en weer op teen die volgende een, op dieselfde opgeruimde, selfgenoegsame manier van haar waaraan ons gewoond geraak het. Sy het nog ‘n entjie gehad om te stap, maar selfs soos haar figuur kleiner geword het in die verte, kon ons haar steeds uitken aan die pers sybokhaar beret.
Translated by Elna Van Rhyn