‘n Ouma Gaan Terug Skool Toe

Goldie Qayiya beskryf haar ervaring van teruggaan skool toe om haar skoolopleiding saam met haar kinders te voltooi. Haar liefde vir leer het haar nooit verlaat nie.

Terug Skool Toe

©Eric Miller

Hoewel ek ‘n ma van twee kinders was, was ek terug op skool. Ek het klasse vir volwassenes bygewoon om standerd 10, die laaste jaar van hoërskool, te voltooi. Ek het om die kinders se onthalwe teruggegaan skool toe. Vusi en Thumela, die oudste van my vier kinders, het geweier om skool toe te gaan.

‘Ek wil ‘n werk hê, soos Pa,’ het Vusi gesê. ‘Ek ook,’ het Thumela gesê. ‘Wat is die nut van skool? Ek is nou groot en dit is tyd dat ek geld verdien.’ ‘Onder geen omstandighede nie,’ het ek vir hulle gesê. ‘Julle gaan terug. Skoolopleiding is die sleutel tot julle toekoms. Julle moet in my voetspore volg en ‘n goeie kwalifikasie verwerf.’ Hulle was nie oortuig nie, toe besluit ek om ‘n voorbeeld te stel.

Goldie die Skolier

©Eric Miller

Hoewel ek ‘n onderwyskwalifikasie gehad het, het ek nie hoërskool voltooi nie, want toe ek jonk was kon ons onderwyskollege toe gaan na slegs ‘n paar jaar in die hoërskool. Nou, as ‘n ma, het ek besluit om terug te gaan hoërskool toe.

Ek het geweet dat my kinders sou volg, want hulle was bang hulle word deur hulle ma uitgestof. Die inwoners van Oamata in die Oos-Kaap het gevra dat daar aandklasse vir volwassenes moet wees en die opperhoof het sy toestemming gegee. Dus het ‘n groep van ons die skoolhoof gaan spreek en gevra om die eerstes te wees wat inskryf vir die aandklasse. Hy het ons name neergeskryf as die eerste studente.

Vervolgens het ek saam met my kinders geleer. Sommige jongmense wat nie skool voltooi het nie, het ook die aandklasse bygewoon. Toe hulle sien dat ek ook in die aande klas toe kom, het hulle gesê, ‘Ag siestog, kyk die arme ou tannie. Sy gaan baie swak doen want sy kom uit die ou dae. Al wat sy heeldag doen is stampmielies buite die huis maak. Sy gaan baie stadig skryf, hierdie ouma.

’ Ek het met hulle geraas. ‘Moenie aanmerkings oor my maak nie. Ons is nou almal in dieselfde klas en ek is hier om te bly. Julle sal my môre, en volgende week, en volgende maand sien, steeds besig om skool by te woon; dus beter julle daaraan gewoond raak.’

Kompetisie

©Eric Miller

Ek het elke aand klas toe gegaan, nadat die kinders by die huis gekom het van hul eie klasse af. Al my kinders, die seuns sowel as die dogters, het my met die huiswerk gehelp sodat ek kon studeer.

Ek het hulle baie streng grootgemaak, soos my ouers my grootgemaak het, en hulle het geweet dat hulle moes kosmaak, klere was, stryk en die werf skoonmaak. Ek het dieselfde onderwysers as Vusi en Thumela gehad en ons het kompeteer om te sien wie behaal die hoogste punte.

As die onderwyser aan ons ‘n opstel gegee het, het ons dit saam-saam geskryf en as ons dit twee dae later teruggekry het nadat dit gemerk is, sou ons na mekaar se opstelle kyk om te sien wie het die beste punte gekry. Dit was gewoonlik ek. Hulle het gesê, ‘Nee, nee, Mamma het in die ou dae geleer. Ons kan nie toelaat dat sy beter as ons doen nie.

’ Ek het aan hulle die waarde van skoolgaan geleer en uiteindelik het hulle almal geslaag. Die eerste opstel wat ons saam geskryf het, was ‘Wie is jy?’ Ek het oor die belangrike dinge wat in my lewe gebeur het, en oor die dinge waarvan ek in myself hou, geskryf.

Die onderwerp van die tweede opstel was ‘Geluk’ en die derde was ‘Beskryf die woud en die veld.’ Ek het 60 persent vir hierdie opstelle gekry en my kinders 39 of 40 persent. Ek het beter as my kinders presteer in al my opstelle.

‘n Onbetroubare Stelsel

©Eric Miller

Toe ons die finale eksamens geskryf het, het ek ‘n A vir Engels behaal. Maar die prinsipaal het vir my gesê, ‘Die omsendskrywe van die onderwysdepartement sê jy moet die vak herhaal.’ ‘Hoe op aarde kon ek ‘n opstel afgeskryf het?’ het ek baie ontsteld gesê. ‘Hoe dink die onderwysdepartement kan ek ‘n brief afskryf?’ Ek hou van Engels en ek is altyd besig om dit te leer.

Selfs nou, as ‘n ouma, het ek ‘n boek oor die Engelse taal en ek gebruik ‘n Engels-Xhosa woordeboek waaruit ek leer om die woorde te vertaal van die een taal na die ander. ‘n Paar maande later het ek die eksamen weer geskryf en toe ‘n E behaal. Dit was baie slegte geluk.

Een van die onderwysers het aan my verduidelik dat sommige van die eksaminators dronk was wanneer hulle die vraestelle gemerk het en hulle sou dinge sê soos, ‘Ek ken daardie persoon en hy is slim. Ek sal hom ‘n goeie punt gee’, en as hulle by die volgende vraestel gekom het, sou hulle weer sê, ‘Ek weet nie wie hierdie een is nie. Ek dink ek sal die punte ‘n bietjie laer maak.’

Translated by Elna Van Rhyn