My pa was ‘n baie gerespekteerde persoon in die gemeenskap omdat hy ‘n onderwyser was en soveel gedoen het om ander te help. Hy het van die groente op ons lande uitgedeel aan die armes, die weduwees in die dorp en vroue wie se mans nie daar was nie omdat hulle op die myne van Johannesburg gewerk het.
Hy het ook ons plaaslike boy scouts en girl guides opgelei en danslesse aangebied by die plaaslike skool. As daar ‘n dans in die gemeenskapsaal was, was dit my pa en sy pragtige rooi en blou grammofoon wat die musiek verskaf het. ‘n Paar dae gelede het ek ‘n nostalgiese gesprek met Mandisa Mendi, een van die vroue wat ook kom na Grandmothers Against Poverty and Aids, gehad, en ons het lekker gelag.
Sy het in dieselfde dorpie as ek grootgeword en kon onthou hoe sy die grammofoon vir my pa opgewen het by die danse.
My pa was die hoof van die plaaslike Anglikaanse kerk, St Mark’s, wat die hoeksteen van ons lewens in die dorpie was. Dit was die enigste kerk van sy soort in daardie omgewing en ons dorpie is daarna vernoem. ‘n Wit man, Dominee Weaver, was die predikant en hy het te perd rondgereis om te preek.
My pa het Ds Weaver gehelp om mense bekend te stel aan die Christendom. Hulle het mense oorreed om kerk toe te kom om na die Bybelstories te luister; om hul kinders vry te maak van al hul take by die huis sodat hulle kon skool toe gaan; en hulle het in die lokasie rondgegaan en met mense gepraat en ook met die kinders gepraat waar hulle hulle ookal gevind het.
As Ds Weaver gekom het om in St Mark’s te preek, het hy met sy perd by ons huis aangekom en daar oorgebly. Hy het die eerste keer gekom toe ek omtrent 12 was. Hy was jonk en lank, met donker hare, ‘n baie goeie man wat my diep beïndruk het. In daardie dae het swartmense baie selde witmense gesien omdat hulle baie selde na ons lokasies toe gekom het, so dit was baie snaaks dat hierdie witman na ons huis toe gekom het.
Mense het gevra, ‘Waarom laat julle hom in julle huis slaap? Daar is ‘n hotel vir witmense. Hoekom gaan hy nie net soontoe nie?’ Maar Ds Weaver het vir my pa gesê, ‘Ek kan nie na ‘n hotel toe gaan nie. Ek wil myself verbind tot swartmense en in julle huis slaap.’ En dit was baie goed.
Ds Weaver het sy eie slaapkamer in ons huis gehad, ‘n witgeverfde kamer met ‘n nuwe bed en nuwe gordyne. Ons het nooit daar geslaap nie, hoewel hy net omtrent eenmaal per maand na St Mark’s toe gekom het. Die kamer is gehou net vir hom. As hy gekom het, het my pa ons winkels toe gestuur op ons fietse om vleis te koop om dit te vier en ons het dit saam met groente uit die tuin geëet.
Hy het saam met ons aan ons eetkamertafel geëet. Dit was die enigste kere dat ons die eetkamer gebruik het want dit is slegs gebruik vir uiters spesiale geleenthede. As Ds Weaver nie by ons was nie, het my susters en ek uit een bak geëet, wat ons aangestuur het in die rondte, en die seuns het dieselfde gedoen, op die tradisionele manier.
Sodra ons klaar was met aandete, het die kinders al die bakke en borde bymekaargemaak sonder dat hulle gevra is om dit te doen, en dit gewas en die vloere gevee. As dit nodig was om die vloere te poleer, het ons dit ook gedoen. Die rede hiervoor was dat kinders wat nie werk gehad het om te doen nie, in die lokasie rondgeloop het en kwaadgedoen het.
Die dominee het isiXhosa geleer en teen die tyd dat hy ons verlaat het, het hy dit baie goed gepraat, maar aan tafel het ons Engels gepraat. Hy het met ons almal gepraat, selfs die kinders. Hy was baie lief vir die kinders. Baie later was hy die predikant wat my en my man in St Mark’s getrou het. My pa het nie ongemaklik gevoel in die geselskap van Ds Weaver nie want hy het grootgeword na-aan sekere witmense. Mnr Groenewald, aan wie die Deckerts Hill Trading Store behoort het, was een van hulle.
Translated by Elna Van Rhyn