Hy was ‘n sterk, standvastig man, hierdie pa van my, Victor, Tamsanqa Ngqono. Ek het na hom opgesien en hom bewonder. Hy was ‘n hoërskoolonderwyser maar elke dag wanneer hy teruggekom het van die skool af het hy lande toe gegaan om te ploeg vir sy mielies, pampoene en ander groente, en om na die vrugtebome te kyk.
Hy het die water van ‘n groot rivier naby ons gekanaliseer en met voortjies ons tuine en lande natgelei. Hy het altyd vir ons gesê dat hy dit nie kon verdra dat iemand honger ly nie, want ‘As jy ‘n man is, moet jy werk om vir jou familie te sorg.’ So, ons het nooit honger gely nie.
As hy vroeg gaan slaap het sou hy weer teen middernag opstaan en sê, ‘Ek gaan gou kyk na die besproeiingspype.’ Teen twee uur in die oggend het hy dalk weer opgestaan en gesê, ‘Ek gaan net seker maak dat die beeste nie uit die kraal uitgekom het nie,’ of ‘Ek vat die trekker lande toe.
’ Ek weet hy het op sulke snaakse tye opgestaan want ek kon hom hoor beweeg en grappe maak met my ma. ‘Skattebol, staan op, staan op. ‘n Mens moet werk, weet jy. ‘n Mens moet baie, baie hard werk,’ het hy gesê. Dan het hulle gelag. Hy mag daarvan gehou het om snaaks te wees, maar sjoe, hy het eindelose deursettingsvermoë gehad.
Tien jaar voordat my pa dood is, het hy ‘n huis met ‘n winkel langsaan, hoog teen die heuwel, gekoop by ‘n witman genaamd Mnr Groenewald. Die winkel se naam was Deckert’s Hill Trading Store. Dit was ‘n pragtige plek met ‘n wonderlike uitsig oor die berge wat rondom die vallei gelê het, met groot landerye daar rondom.
Selfs in 1995, die jaar waarin hy gesterf het as ‘n ou man, het my pa hard gewerk op sy lande waar hy suikerbone en ander soort bone, pampoene, ertjies, skorsies, botterskorsies, eiervrugte, blomkool en kool geplant het. Hy het nooit enige werkers gehad om hom te help nie, so ons het van jongs af geleer hoe om te skoffel en om groente te kweek.
Ek het baie daarvan gehou. Omdat al ons kos van ons lande af gekom het, het my pa amper nooit sy salaris gebruik nie. Hy het dit alles in ‘n kluis gebêre. Daar was geen banke in daardie dae nie, daarom het my pa die kluis gekoop om sy salaris in te bêre en ons het dit sy ‘veiligheidskis’ genoem.
Hy het byna nooit iets daaruit geneem nie. Hy het altyd vir ons gesê, ‘Moet nooit ‘n dief of ‘n lener wees nie. Alle geld wat jy het, moet jy in drie dele verdeel. Een is vir kos, een is vir spaar en die ander is vir wanneer daar siekte in die huis is.’ So ons het altyd genoeg gehad.
My pa was dalk streng, maar hy was ook baie goedhartig. Hy het vir ons nuwe fietse gekoop in die groot dorp naby Queenstown, sodat ons vinnig kon terugry sonder dat ons te moeg geword het, wanneer hy nodig gehad het om ons na die winkel toe te stuur.
Aan die einde van die maand het hy ons Queenstown toe geneem om klere te koop by Bloomenthals en Sales House. Ons het baie spesiaal gevoel.
Translated by Elna Van Rhyn