My ouers het my nooit enige geld gegee nie. Toe ons in Athlone gebly het moes ek deur die bosse loop om by die skool te kom. Eendag het ‘n maer wit vrou my uit een van die huise wat op die rand van die bosse gestaan het, geroep. ‘Haai, dogtertjie, kom hier,’ het sy gesê. ‘Ek wil met jou praat.’ Sy het vriendelik gelyk en ek was nuuskierig, so toe gaan ek na haar toe. Sy het gesê dat sy wou hê ek moet vir haar werk.
Ek moes haar lang rooi stoep was en poleer en klere was met daardie blou seep wat mense in daardie dae gebruik het. Dit was so ‘n lang steen seep, blou en wit. Ek kan nie meer die naam onthou nie. Van toe af het ek twee of drie dae per week na haar huis toe gegaan.
Ek is 50 sent per dag betaal. Dinge was nie so duur in daardie dae nie; met daardie 50 sent kon ek suiker, koffie, tee en brood koop. Toe my ouers sien dat ek by die huis aankom met hierdie goed, het hulle gevra, ‘Waar het jy dit alles gekry?’ Ek het net gesê, ‘n wit vrou het dit vir my gegee.’
Ek het daarvan gehou om die werk te hê want ons het so min by die huis gehad dat die geld dinge vir my ‘n bietjie beter gemaak het. Maar in werklikheid was dit nie ‘n verbetering nie, want ek het nie skool toe gegaan nie, so ek het nie die dinge geleer wat ek vir my toekoms nodig gehad het nie. Maar ek het dit nie toe besef nie. My ma is dood toe ek nog klein was, in die laerskool.
My ouer suster, Patience Nomabhulu, het soos my ma geword, dus was my ma se dood nie vir my so erg nie. Maar toe ek so 14 of 15 was, en in standerd 5, wat nou graad 7 genoem word, het ek opgehou om skool toe te gaan. Ek het liewer na my vriende se huise toe gegaan sodat ons heeldag kon gesels en grappe maak. Dit was baie onskuldig. Daar was geen kêrels nie en ons het maar net pret gehad. Maar ons het nie skool toe gegaan nie.
Translated by Elna Van Rhyn