Kaapstad was ‘n totale ander plek in daardie dae. Vandag is daar plakkerskampe vanaf die stad, regoor die groot stuk land wat uiteindelik die Helderberg bereik aan die anderkant van Valsbaai. Maar jare gelede was daar niks – geen Gugulethu, Khayelitsha of Mitchells Plain, waar miljoene mense vandag woon nie. Daar was net bosse wat gestrek het tot in die verte.
Ek en my ma het in Distrik Ses gewoon in die sentrale gedeelte van die stad. Sy was ‘n huishulp in Kloof Flats in Kloofnek Weg. Soms het sy ingeslaap by haar werkgewer, Mev Orren. Sy was ‘n goeie vrou, Mev Orren – sy is die een wat my leer naaldwerk doen het en om die sokkies en truie te brei wat ek vandag nog maak.
Ek het nie skool gegaan nie. My ma het altyd gesê, ‘Ek wil nie hê jy moet met na Kleurlingskole toe gaan nie.’ Sy wou ook nie hê dat ek met Kleurlingkinders speel nie. Ek kon nie verstaan hoekom nie. So ek het elke dag saam met haar werk toe gegaan en my tyd spandeer om huis aan die kant te maak, vloere uit te vee en badkamers skoon te maak.
Ek het daarvan gehou, want dit het soos die regte ding gevoel om te doen. My ouma het my geleer dat meisies nie heeldag moet rondsit en niksdoen nie en dat ons by die huis moet werk omdat ons eendag sal trou en dan moet weet hoe om huis te hou en ‘n ma te wees.
Distrik Ses het baie bekend geword nadat die apartheid owerhede die huise omgestoot en al die inwoners verdryf het omdat hulle nie swart of gekleurde mense naby die stadskern wou hê nie.
Dit het my nie affekteer nie omdat ek teen daardie tyd reeds getroud was en saam met my man gebly het. Maar dit was bitter swaar vir my ma. Sy moes ver van die werk gaan bly en dit het drie busritte geduur, wat ure se reis beteken het, om daar te kom.
Translated by Elna Van Rhyn