Ouers van die GAPA oumas

Die Grandmothers Against Poverty and Aids groep (GAPA) vertel van hulle ervarings met hul ouers en die belangrike lesse wat hulle geleer het oor strengheid, harde werk en om goedhartig te wees.

Beauty Skefile

©Eric Miller

My ouers was nie wreed teenoor ons gewees nie, maar hulle het min belangstelling in ons getoon. Ek kan nie sê hoekom nie, maar hulle het baie gedrink oor naweke en, jy weet, as jy drink, kry jy niks reg nie. Hulle vriende het oor naweke na ons huis toe gekom. Een van hulle sou die grammofoon opwen en dan het hulle gedans en dronk geword en baie gelag terwyl hulle ‘n partytjie gehou het.

Ek het nooit self enige wyn of bier gedrink nie. So, ons het nie veel met ons ouers gepraat oor wat ons gedoen het nie en ons het ook nie met hulle gestry nie. Ons het hulle net gerespekteer en gehoorsaam. Niemand het ooit gekyk wat ek doen nie.

Ek het net huis toe gegaan om te eet, en daarna het ek gaan doen waarvoor ek ookal lus gehad het. My vriende en ek het na skool bymekaargekom en sommer net rondgesit en gelag en gesels.

Ons het niks sleg gedoen nie, maar ons het ook niks goed gedoen nie. Ons was nie soos vandag se kinders nie. Hulle weet so baie dinge van jongs af. Hulle is te slim.

Tenjiwe Tutu

©Eric Miller

My ma was baie sterk en toe ons klein was het sy alles in ons huis en op die lande self gedoen. Sy het die lande geploeg om ons groente te plant; sy het drinkwater gaan haal, hout bymekaargemaak, vuur gemaak en ons kos gekook. Sy het selfs die mure van ons rondawel met klei en mis gepleister, presies gemeng sodat dit sou hou.

Haar tuin was pragtig. Ek onthou nog die koolkoppe, aartappels en wortels wat sy gekweek het. My ma was baie teer teenoor haar kinders, maar as ons nie geluister het nie, het sy kwaad geword en ons pak gegee. My ma het geld nodig gehad vir klere, skoolboeke en ander goed vir haar kinders, toe besluit sy om Kaapstad toe te gaan en na my pa te soek.

Ek was sewe of agt toe sy weg is. Sy het vir ons gewaai toe die bus weggery het en ons het aangehou waai totdat die bus net ‘n spikkeltjie in die verte was, soos kinders maar maak. Toe ons terugdraai en terugstap sonder haar, was ons harte seer en al drie van ons het gehuil. Jou mammie het dalk maar min om vir jou te gee, maar jy wil haar nog steeds nie verloor nie. O, dit was ‘n hartseer tyd.

Goldie Qayiya

Dit was my pa wat die belangrike besluite oor my lewe geneem het en my wense geïgnoreer het. Sy besluite het die verloop van my lewe bepaal. Dinge het reg uitgedraai aan die einde, maar ek het baie swaargekry.

En die feit dat ek nie self kon besluit oor my lewe nie, het my baie pyn besorg. My pa het nooit ophou werk nie en ek het hom ook nooit sien moeg word nie, hoewel hy nooit baie lank geslaap het nie.

My ma was ‘n baie stil persoon, maar ek het nooit teruggepraat nie, want ons is grootgemaak, ‘n kind is ‘n kind en moet ‘n grootmens respekteer.’ As sy gesê het, ‘Goldie, neem kos vir jou kleinboeties en –sussies’, het ek dit gedoen. Nie eenkeer het ek gesê, ‘Nee, ek is nie lus nie, of ‘Ek is moeg,’ nie. Grootmense, in hul wysheid, moet gerespekteer word.

Translated by Elna Van Rhyn