Ek het as ‘n tiener baie siek geword. Een nag, tydens hierdie siekbed, het ek ‘n droom gehad dat ek gestap het in ‘n woud saam met ‘n klomp sangomas. Op ‘n ander nag was ek weer omring van sangomas toe die stem van my voorvaders met my praat en sê: “Dit is jou leermeester.
” ‘n Lang sangoma het opgestaan terwyl hy ‘n stok met die lang hare van ‘n koei daaraan na my uithou en voor my neersit en sê: “Van vandag af is jou naam nie meer Nothando nie. Jy het nou ‘n nuwe naam, ‘n sangoma naam. Dit is Nomagqirha.” In daardie droom het die stem van my voorvaders vir my gesê dat die naam van die sangoma wat met my gepraat het, Solomon Gomono was en dat ons hom in Uitenhage sou vind en dat hy my leermeester sou wees.
Ek het my pa van die droom vertel. Dit was ‘n oproep van die voorvaders dat ek ‘n sangoma moes word. Ons het vertrek op die treinreis na Uitenhage om na Solomon Gomono te gaan soek. Nadat ons rondgevra het, het ons iGxapa, die plek waar hy gewerk het, gevind. Die oomblik toe ek by die deur ingestap het, het ek begin beter voel. Die sangoma was dieselfde leermeester as die een in my drome. Hy het my in die oë gekyk en toe vir my pa gesê: “Hierdie jongvrou het glad nie hartprobleme nie. Sy word geroep om ‘n sangoma te wees.”
As voorbereiding om opgelei te word as ‘n sangoma, moes ek deelneem aan ‘n spesiale reinigings seremonie saam met agt ander jong mans en vroue. Ons moes verskeie spesiale kruie gebruik wat deur die sangoma aan ons gegee is. Een daarvan was bas van die maphipa boom wat ons oornag in ‘n emmer water moes laat. ‘n Ander een was blare van die impepho bos wat ook oornag in ‘n emmer water gelaat moes word.
Die volgende oggend het ons gewas met die water van hierdie twee emmers. Ons het ook ‘n wit wortel genaamd isilawu wat mens in die veld vind, gemaal en in water geplaas en met ‘n stok geroer totdat dit skuim begin vorm het. Ons het daardie skuim gedrink. Daarna het ons nog impepho gebrand en elkeen van ons het onsself met ‘n kombers bedek sodat die aroma geabsorbeer kon word. Dit is wanneer verskuilde dinge, die spesiale visioene wat net sangomas sien, begin om duidelik te word.
Voor hierdie seremonie het ek dikwels gedroom oor my oupa, wat reeds oorlede is. Maar nou, na die absorbering van die aroma van die impepho, kon ek ‘n koel wind op my gesig voel en daar, voor my, het my oupa verskyn – amper duideliker as in die regte lewe. Hy het sy seën uitgespreek oor my toekoms en gesê: “Jy het die regte leermeester gekies om jou op te lei.”
Aan die einde van die reingingseremonie het ‘n belangrike gebeurtenis plaasgevind. “Dans, dans, almal van julle moet dans,” het my leermeester gesê en met honderde vriende en familielede rondom ons wat vir ons sing en klap, het ons gedans uit vreugde en feesviering met die voorvaders.
Ek was 16. Ek het sterk en vry gevoel. Dit was een van die gelukkigste oomblikke van my lewe. Nou, as ‘n volwassene, kan ek geen ander werk as die van ‘n sangoma doen nie, omdat ek nie veronderstel is om iets anders te doen nie. Om ‘n huishulp te wees is nie ‘n opsie nie.
Soms het ek niks om te doen vir weke nie, want niemand kom na my toe nie, maar daar is wel tye wanneer hulle kom, en een keer per maand gaan werk ek by ‘n 'wellness centre' in die voorstad Observatory. Wit, swart en gekleurde mense kom spreek my daar. Ek gooi die bene vir hulle en vertel hulle wat nie reg is in hulle lewens nie en sommiges vra my: “Mama, jy moet my huis kom reinig van slegte geeste.”
My drome is baie kragtig en baie van die dinge waaroor ek droom word waar. Dit is een van die talente van ‘n sangoma en ek kan nie meer daaroor sê nie, of die drome beskryf nie. Sangomas praat nie oor sulke dinge nie.
Translated by Elna Van Rhyn