Ons huishouding se inkomste bestaan uit my pensioen, een kindertoelaag en twee pleegsorgtoelaes. In die eerste week van die maand koop ek rys, Weet-Bix, mieliemeel, suiker en alles wat die kinders vir skool nodig het; teen die tweede week is daar geen geld meer nie.
Ons gaan leen so R200 by ‘n vriend en as dit op is, en dit begin die lenery van voor af. Dan moet ons dit weer terugbetaal as die pensioen kom. Die meeste van my kinders het in die Transkei gebly toe hulle groot was. My een oorlewende seun, Sakhumzi, wat ‘n onderwyser is, help sy susters finansieel want hulle was nie in staat om werk in die Transkei of in Kaapstad te kry nie. Ek stuur ook vir hulle van my pensioengeld.
My kleindogter, Sesethu, een van die kleinkinders wat in Kaapstad by my bly, is 21 en studeer aan die Pentech in die stad. Ek is baie bly daaroor. Sy het ‘n werk gekry om onderhoude met mense te voer tydens die regering se sensus verlede jaar, en sy is daarvoor betaal, maar ek wou nie van die geld gehad het nie omdat sy dit vir haar studies nodig gehad het.
Ek weet nie presies wat sy studeer nie. Ek verstaan dit nie. Wat ek wel weet is dat sy doen wat sy wil doen, en dit is goed.
Ek wil nie in Kaapstad bly nie. Ek wil teruggaan Oos-Kaap toe want dit is die plek van my herkoms, waar my pa gebly het. Maar die rondawel wat my pa gebou het, waarin ek grootgeword het, is besig om inmekaar te stort. Ons kan nie daarin woon nie.
Ons bly langsaan, in ons familielid se huis, terwyl ons besig is om die rondawel te herstel. Nomanani, my oudste dogter wat daar woon, is besig om ‘n ordentlike vloer te lê en ons beplan om groter vensters en ‘n nuwe deur in te sit, want ons deur is gebreek.
Ons beplan ook om ‘n regte baksteenhuis te bou om die sinkgebou te vervang wat langsaan is. My seun, Sakhumzi, die onderwyser, het gesê dat hy dit sal bou. Hy het al die stene gekoop en hulle is daar op die erf. Ons wag nou net om te sien sien wanneer hy die bouwerk kan doen. Dan sal ons genoeg plek hê vir die hele familie om te bly as hulle daarnatoe gaan in die vakansies.
Nomanani wil hê ek moet terugkom Oos-Kaap toe om na haar twee seuns te kyk sodat sy werk kan gaan soek in Queenstown wat nie te ver weg is nie. Maar my ander kleinkinders is in Kaapstad en hulle wil nie vir altyd teruggaan Oos-Kaap toe nie. Jy weet hoe jongmense is. Hulle wil in die stad wees, want dis waar die werk is en dis waar hulle hulleself geniet.
Translated by Elna Van Rhyn