Nou het ek iets om oor te glimlag. Ek het ‘n pragtige baksteenhuis. Ek het God gevra vir ‘n baksteenhuis, maar in my binneste het ek maar geglo dat ek sou sterf in ‘n plakkershut. So, toe die People’s Housing Process vir my kom sê dat ek my hut sal moet afbreek om ‘n huis op hierdie perseel te bou, was ek oorstelp.
Om hier in te trek was soos ‘n droom. Dit is baie sleg om in ‘n plakkershut te woon. As die wind waai slaap jy niks want jy is bang die hut gaan wegwaai. En in Kaapstad waai die wind partykeer vir weke aaneen. Een van my seuns het altyd in die nag wakker geword en aan die pale vasgehou sodat hulle nie weggewaai het nie.
Jy slaap nie rustig as jy heelnag jou hut moet vashou sodat hy nie wegwaai nie. As dit gereën het, moes ons ‘n emmer op ons bed sit anders het die water die beddegoed deurweek, en as dit koud is buite, is dit vriespunt in ‘n hut. Daar is ook baie sandvlooie as gevolg van al die sand op die Kaapse Vlakte. Toe ons in Site C gebly het, was die eerste ding wat ons gedoen het nadat ons by die deur ingestap het, om af te buk en die vlooibyte op ons bene te krap.
Ons het altyd gesê, ‘Die eerste ding wat jou groet as jy by die huis kom is die vlooie.’ Eenkeer, ook in Site C, het my hut heeltemal afgebrand en ons het niks oorgehad nie. Dit gebeur met so baie mense. So, noudat ek ‘n regte huis het, voel ek so goed en trots op myself. Ek is net jammer vir die mense wat dood is voor hierdie tyd en wat nooit kans gehad het om hierdie dinge te sien gebeur nie.
Een van my dogters het gesterf. Ek woon nou saam met my ander dogter en seun en my twee kleinkinders. My seun was ‘n alkoholis, maar nou het hy ‘n goeie werk by die staat, waar hy dreine en toilette skoonmaak en selfs in die rioolstelsels ingaan.
Hy is opgelei om dit te doen en hy was baie bly oor die werk want hy was drie jaar lank werkloos. Maar hy skuld ‘n paar mense baie geld en hulle trek dit van sy salaris af. My dogter werk soms, maar sy word slegs ‘n paar honderd rand per maand betaal en sy spandeer dit amper alles op treingeld om by die werk en terug te kom.
Ek dink nie dis reg nie. In elk geval, ek is nou die hoofbroodwinner in my familie. Ek het my pensioen en by GAPA brei ek truie en poppe en ek doen ‘n bietjie hekelwerk. Mense koop die goed wat ek maak en daardeur kry ons ‘n klein bietjie meer geld. Ons het dikwels nie genoeg om te eet nie en dis baie moeilik om ‘n hele familie te onderhou.
Maar die lewe is nie meer so sleg soos dit jare gelede was nie. Ek probeer nou om die sorge van die verlede agter my te sit, en om vorentoe te beweeg.