Appelkoosdoring: Sappige Heiningplant

© Raasgat
Kei-appel (Dovyalis caffra) word ook appelkoosdoring, umgokolo, amagokolo, um-qokolo, umkokola, Dingaan se appelkoos en motlhono genoem. Die wilde appelkoos (D. zeyheri) en gewone suurbessie (D. rhamnoides) is twee ander vrugtespesies in die Dovayalis-familie.
Die Kei-appel is 'n droogte - en rypbestande immergroen boom-struik wat tussen 3 en 5 m hoog groei. Dit word gevind in vallei bosveld, droë gebiede, beboste grasvelde en op rande van woude in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo provinsies. Die doring Kei-appel maak 'n uitstekende heiningplant (wanneer dit dig opmekaar geplant word) en het nie-indringende wortels.
Die plant is in 1838 na Engeland uitgevoer en het versprei oor die wêreld waar dit veral as 'n heining in kustuine geplant word aangesien dit swak soutgrond en seesproei verdra. Blomme is ryk aan nektar wat skoenlappers en insekte aantrek terwyl die vrugte gewild is by voëls en mense. Blare word deur vee geniet en as dierevoer benut.
Kei-appel vrugte is eetbaar met 'n sappige tekstuur, soortgelyk aan 'n appelkoos. Dit kan by vrugteslaai gevoeg word, dit maak 'n goeie konfyt en kan ook in koeke of in vrugte-drankies gebruik word. As gevolg van sy suur smaak word dit nie sommer net so op sy eie geniet nie, maar word eers besprinkel met suiker voordat dit geëet word. Die onryp vrugte kan gepekel word. Die vrugte word ryp vanaf Augustus tot Oktober en moet verkieslik in trosse geoes word. Dit word met 'n mes afgesny word om te verhoed dat die velletjies skeur.
Kei appel is droogte-en rypbestand en groei goed uit sade wat van ryp vrugte verkry word. Die saad moet skoongemaak en droog word voor dit gesaai word. Kei-aaple sade kan gekoop word by meeste kwekerye in KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en die Wes-Kaap gekoop word.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver