Gemmer Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Gemmer plant voort deur die uitplanting van die vorige oesjaar se risome (knolle). Risome kan ook van verskaffers of kwekerye aangekoop word.

Hoe om te Plant

Die gemmer risoom word kleiner gebreek en dan geplant. Die stukkies moet 50 – 75 gram weeg en 15 cm diep geplant word.

Spasiëring

Gemmer moet 25 cm uitmekaar in rye wat 30 cm van mekaar af is geplant word. Dit is omtrent 100000 tot 120000 plante per hektaar. Daar moet elke paar rye, afhangende van die grootte van die plaasimplemente, paaie gemaak word.

Planttyd

Plant gemmer vroeglente tot vroegsomer. In Suid-Afrika is die beste tyd vanaf laat Augustus tot Oktober.

Groeiperiode

Gemmer vat agt tot nege maande om ’n groot genoeg risoom te word wat reg is vir die midseisoen oes in April en Mei. Laat-seisoen gemmer word omtrent ’n jaar na dit geplant is, in Junie en Julie, geoes. Dit word vars maar ook gedroog en gemaal of as ’n ekstrak verkoop. Vroeë seisoen gemmer word vyf tot ses maande na aanplanting en voordat dit veselryk is, in Februarie en vroeg Maart, geoes. Dit word gewoonlik met die hand geoes om skade aan die risome te voorkom en daarna gepreserveer.

Bemesting

Gemmer het as gevolg van die hoë plantdigtheid baie voedingstowwe nodig om ’n hoë opbrengs te lewer. Dit is raadsaam om ’n grondanalise te laat doen en daarvolgens die nodige voedingstowwe toe te dien. ’n Goeie organiese materiaal soos kompos of mis moet ’n maand voor planttyd ingeploeg word. Die volgende bemestingsprogram kan gevolg word.
Omtrent ’n week of tien dae na aanplanting en na die eerste besproeiing moet 350 – 500 kg 2:3:4 (30) langs die plantrye toegedien word. Dieselfde mengsel kan op 10 weke, dan 16 en weer op 24 weke na aanplanting toegedien word. Monitor groei en die risome se ontwikkeling voortdurend tydens die groeiperiode. ’n Spoorelement sproei dra ook tot gesonde groei by.

Besproeiing

Dit is raadsaam om ’n deklaag langs die plantrye te gooi. Dit voorkom dehidrasie en onkruid. In gebiede waar daar nie ’n hoë reënval is nie moet gemmer gereeld natgemaak word. ’n Besproeiingskedule van 45 – 50 mm per week word aanbeveel. Vogmeters kan ook geïnstalleer word.

Translated by Ananda Schoeman