Gemmer

© Louise Brodie

Naam: Gemmer
Wetenskaplike Naam: Zingiber officinale

Plant Beskrywing

Gemmer word vir die geurige ondergrondse knol verbou. Die plant is ’n bamboesagtige struik met sagte blare en stamme.

Gebruike

Gemmer word as ’n smaakmiddel in voedsel gebruik en meestal in Asiese geregte. Dit kan rou geëet word of versap word. Die olie word in drankies of lekkergoed gebruik en dit kan ook gepekel of gepreserveer word. Gemmerekstrak word vir medisinale doeleindes of in parfuum gebruik.

Grondvereistes en Voorbereiding

Gemmer gedy in sanderige leemgrond wat goed dreineer. Die grond moet ’n hoë organiese inhoud hê. Ploeg die grond ’n maand voor planttyd tot ’n diepte van 500 mm om en werk 30 m³ kompos of mis in. Dit word gewoonlik met ’n skotteleg gedoen en die beddings word opgeërd.

Klimaat

Gemmer groei goed in warm klimate met ’n hoë humiditeit en temperatuur van 28 – 34°C. In gebiede waar daar nie ’n hoë reënval tydens die groeiperiode is nie moet daar genoeg water gegee word. Gemmer word meestal in die tropiese en subtropiese dele van die wêreld geproduseer.

Kultivars

Geel gemmer met geel vleis en wit gemmer met helder wit vleis word die meeste aangeplant. Ander variëteite is Jamaica Oya en Hawaiian.

Translated by Ananda Schoeman