Beet Verbouing

© Marinda Louw

Voortplanting

Beet plant voort met die saai van saad.

Hoe om te Plant

Plant die beetsaad omtrent 20 mm diep direk in die grond. Saad word aanvanklik 2 cm uitmekaar en in rye wat 20 cm van mekaar af is geplant. Sodra dit gevestig is word dit uitgedun en hierdie plante kan gebruik word om gapings te vul. Die saad kan ook in saadkassies gesaai word en as dit 10 cm groot is uitgeplant word. Hierdie metode word nie deur die groot kommersiële produsente gebruik nie, aangesien ’n goeie produksie ongeveer 500 000 plante per hektaar benodig en dit is baie duur.

Spasiëring

Die plante moet uiteindelik 5 tot 10 cm uitmekaar gespasieer word, afhangende van die grootte van die beet wat verlang word. Dit word in rye wat 20 cm van mekaar af is geplant. Met die paaie wat vir die plaasimplemente en arbeiders gemaak is, sal daar ongeveer 600 000 tot 800 000 plante per hektaar wees. Weereens wissel dit van produsent tot produsent en dit hang af van die tipe mark waarvoor die gewas bestem is.

Saaityd

Beet kan regdeur die jaar in gematigde klimaatstoestande geplant word. In Suid-Afrika word die beste kwaliteit beet verkry deur vanaf Augustus tot Desember te plant.

Groeiperiode

©Louise Brodie
Twee maande (agt weke) vir kleiner bete met ’n deursnee van 40 mm - 50 mm en 3 maande (12 weke) vir groter bete van 60 mm - 70 mm in deursnee. As dit te lank in die grond gelos word, kan dit verhard en die kwaliteit vir vars verkope beïnvloed.

Bemesting

Voor saaityd en tydens die voorbereiding van die beddings kan kompos en hoendermis in die boonste 200 mm van die grond ingewerk word. Na saaityd kan ’n organiese deklaag oor die area gestrooi word. Sodra die plante gevestig is, ongeveer drie weke later, behoort 400 kg KAN of ’n soortgelyke vloeibare kunsmis toegedien word. Drie weke na die eerste toediening moet die dieselfde hoeveelheid stikstof as tydens die eerste toediening, in die vorm van kaliumnitraat, toegedien word.

Besproeiing

©Marinda Louw
Besproei liggies na saaityd om die grond ordentlik klam te hou. Moet nie te veel water gee nie aangesien dit die ontkieming sal beïnvloed. Ongeveer 25 mm gedurende die eerste tien dae sal voldoende wees. Sodra die plantjies opkom sal 35 mm – 50 mm per week genoeg wees. Hoër temperature en wanneer die verdampingsvlak hoër is vereis soveel as 50 mm per week.

Translated by Ananda Schoeman