Beet

© Chris Daly

Algemene naam: Beet
Wetenskaplike naam: Beta vulgaris

Plant Beskrywing

Beet is ’n tweejarige plant. Gedurende die eerste jaar, waarin dit normaalweg geoes word, vorm die eetbare penwortel gedeelte wat beet genoem word en waarvoor dit hoofsaaklik geplant word. Beet het hartvormige blare wat op ’n kort stammetjie van 10 tot 15 cm gedra word. As dit vir die tweede jaar in die grond gelos word, sal dit blom en dan saad voortbring.

Gebruike

Die beet blare kan as ’n heerlike alternatief vir spinasie gekook word en is ryk aan vitamien A. Beet bevat baie vitamien C en antioksidante. Dit word gekook en kan warm of koud as ’n slaai geëet word. Dit word ook versap.

Grondvereistes en Voorbereiding

Sanderige leemgrond met ’n goeie dreinering is die beste. Swaar kleigrond en suurgrond met ’n pH laer as 6 moet vermy word. Die grond se ideale pH is 6.2 – 6.8 en daar moet genoeg organiese materiaal teenwoordig wees.
Die grond moet geploeg, skoongemaak en gelyk gemaak word voor planttyd. Gedurende hierdie prosesse kan kompos en hoendermis ingeploeg word en die grond tot ongeveer 300 mm diep bewerk word. Die area waar geplant gaan word kan met die hand of meganies opgeërd word (grond word weerskante van die saadbedding gegooi om ’n rif te vorm). Die riwwe moet 1200 mm wyd en tussen 200 en 250 mm hoog wees. Die rif moet plat bo wees om die hoër saadbedding waarin geplant gaan word te vorm.

Klimaat

Beet is ’n koel klimaat gewas wat by ’n temperatuur van 14°C - 20°C gedy. Die groei en ontwikkeling van die bete word vertraag by temperature laer as 5°C en hoër as 26°C. Dit kan matige ryp oorleef, maar die blare word beskadig en dus word die groei en ontwikkeling van die ondergrondse beet beïnvloed.

Kultivars

Early Wonder, Osprey, Crimson Globe, Detroit Dark Red, Merlin, Globe Dark Red en Star 1105.

Translated by Ananda Schoeman