Wilde Gemmer

© Ton Rulkens
Wildegemmer (Siphonochilus aethiopicus) is ’n gewilde Zoeloe-kruiemiddel wat vermoedelik beskerming teen slange en weerlig bied. Dit word meestal gevind dat dit met spysvertering help, asook om sinusitis en asma te verlig. Dit stimuleer sweet wat sodoende koors verminder. Dit is ’n uitstekende anti-inflammatoriese middel en word ook gebruik vir antibakteriese, anti-swam, pynstillende en anti-tumor effekte. Die Swati gebruik hierdie plant om malaria te behandel en dit kan ook perdesiekte in perde genees.
Daarbenewens het die Cornell Universiteit se Mediese Kollege ’n aktiewe bestanddeel (gingerol) in wildegemmer gevind wat ’n ensiem bevat wat beroerte kan voorkom. Wildegemmer word gebruik in die behandeling van breuke, rumatiek, artritis, spysverteringsprobleme, naarheid en babelas. Dit help teen verkoue en griepverwante simptome soos seerkeel, kongestie, hoes en sinusitis. Vel toestande wat met wildegemmer behandel kan word sluit sere en kneusplekke in.
Die verwarmingseienskappe van wildegemmer is effektief teen winterdepressie, terwyl die energie-eienskappe dit ’n goeie stimulant maak. In ’n lyfroom of as ’n warm kompres kan dit vir artritis, spierpyn en rumatiek gebruik word asook om te help met swak bloedsomloop en om kneusplekke te genees. Slegs die wortels van die lae-groeiende plant met sy pragtige pers blomme word gebruik. Dit bevat verskeie minerale asook vitamiene B3 en B5. Wildegemmer groei in Mpumalanga, maar die oorbenutting van die wortel het veroorsaak dat die plant in KwaZulu-Natal waarskynlik uitgewis word. Wildegemmer het goeie komposryke grond nodig en kan uitgeplant word deur die risoom in die winter te verdeel.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word en is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman