Uie Verbouing

© Louise Brodie

Verbouing

Uie groei uit saad uit. Die saad kan direk in die grond geplant word, of eers tot saailinge gekweek word en dan oorgeplant word. Oor die algemeen is dit meer suksesvol om saailinge te kweek en te plant as om die saad direk te saai. Die grond van die saadbed moet ’n fyn tekstuur hê en die sade moet in rye, met genoegsame spasie tussen elkeen, geplant word.
Die spasie verseker voldoende ventilasie en fasiliteer onkruidbeheer. Die slote moet omtrent 15cm uitmekaar uit wees en die saad moet in ’n diepte van 10mm tot 15mm gesaai word. Die digtheid moet tussen 1500 en 2500 sade per 1m2 wees.
As die temperatuur hoog is wanneer die sade geplant word, kan die besaaide area met ’n dun lagie gras bedek word. 7 tot 14 dae na daar gesaai was, moet daardie deklaag verwyder word. Die saailinge is gereed om oorgeplant te word wanneer hulle 8mm-9mm in deursnee is en 12cm tot 20cm hoog is. Kort-dag uie behoort vanaf 6 tot 8 weke gereed te wees vir oorplanting.

Oorplanting

Om die saailinge oor te plant moet gate van 2cm tot 4cm in die grond gegrawe word. Die wit deel van die saailing moet in die gat begrawe word. Moenie die blare snoei nie. Bedek die wortels deur grond daaroor te hark en druk die grond styf rondom die saailing vas. Moenie die saailinge te diep plant nie, want dit kan veroorsaak dat die bolle verleng groei. Om die wortelstelsel tyd te gee om aan te pas, moet die grond vir vyf dae daarna klam gehou word.

Spasiëring

Die saailinge moet 8 tot 10cm weg van mekaar, in rye van 20 tot 25cm apart, geplant word. Dit werk uit op 50 tot 60 plante per m².

Saai Tyd

Ideale Tyd: Februarie - Maart
Moontlike tyd: Januarie - April

Plant Tyd

Die sade moet voor einde Maart gesaai word, sodat die plante in Mei en Junie in die veld oorgeplant kan word.

Groei Periode

Die plant is gereed om geoes te word 180 tot 230 dae vanaf saai, of 100 tot 120 dae nadat die saailinge oorgeplant is. Wanneer 50% tot 60% van die blare op die grond lê, moet die uie geoes word.

Bevrugting

Ter voorbereiding vir plant kan die grond addisionele fosfor (P) in die vorm van superfosfaat benodig. ’n Gebalanseerde N:P:K-mengsel van 2:3:4 teen 1000kg per hektaar sal normaalweg voldoende wees. In die 3de en 6de week na die oorspronklike plant kan ’n goeie mengsel van kalium (K) en nitraat (N) toegedien word teen 150 tot 250 kilogram per hektaar.

Besproeiing

Ongeveer 500 tot 600mm besproeiing word gedurende die groeiseisoen van die ui benodig. Dit is omtrent 35 tot 40mm per week. As die grondsoort sanderig is, kan meer besproeiing met korter tussenposes nodig wees. ’n Ui se wortels is gekonsentreer in die boonste 30mm van die grond en daarom moet die grond klam gehou word. Drie weke voor oestyd moet die uie nie nat gemaak word nie.

Translated by Ananda Schoeman