Steenvrugte Produksie

Produksie Areas

©Louise Brodie

Suid-Afrika is die grootste steenvrugte produsent in Afrika maar net verantwoordelik vir sowat 16% van die produksie in die Suidelike Halfrond en net 1% van die globale produksie. Nietemin het SA 'n reputasie vir die uitstaande gehalte van sy vrugte wat daarom verstaanbaar hoog in aanvraag is veral in Europa en die Verenigde Koninkryk.

Steenvrugte speel 'n belangrike rol in die land se geskiedenis met die eerste 14 kiste vrugte wat met die stoomskip Drummond Castle in Januarie 1892 na Engeland gestuur is. Soos gerapporteer deur die Post Harvest Innovation is minder as 5% van die vrugte beskadig nadat dit sy bestemming 'n paar weke later bereik het. Dit het getoon dat dit moontlik was vir SA om suksesvol vrugte na ander lande uit te voer. Die perskes het in Londen se Covent Garden mark teen 'n prys verkoop wat verwagtinge oortref het.

Steenvrugte het verskillende koue vereistes afhangende van die spesifieke vrugte en die vrugte se kultivars. Wat dit beteken is dat hulle 'n minimum tydperk van koue weer vereis voordat hulle sal begin blom. Die vrugte word in al nege provinsies in Suid-Afrika geproduseer maar hoofsaaklik in die Wes-Kaap waar die klimaatstoestande gunstig is vir steenvrugte produksie.

Produksie is hoofsaaklik gesentreer op perskes, appelkose, nektariens en pruime met sowat 350 000 ton van hierdie vrugte wat elke jaar geproduseer word. Perskes en nektariens in die besonder verteenwoordig meer as die helfte van hierdie produksie. Klein volumes van kersies word ook geproduseer met volumes van lietsjies wat oor die afgelope paar jaar stadig maar seker toeneem

Markte

Sowat 20% van Suid-Afrika se steenvrugte word uitgevoer terwyl die res plaaslik verbruik word. Die waarde van die Suid-Afrikaanse steenvrugte bedryf word geskat op meer as R2 miljard waarvan ongeveer 70% gegenereer word deur vars vrugte verkope.

Steenvrugte is nie net 'n belangrike bydraer tot die plaaslike ekonomie nie maar is ook 'n groot bydraer tot werkskepping in landelike gebiede met ongeveer 24 000 werkers met 'n geskatte 95 000 afhanklikes.

Translated by Wilma Koeppen