Semillion

© Glenneis Kriel

Beskrywing

’n Witwynkultivar wat in die meeste wynproduserende lande geplant word.

Oorsprong

Sémillon is een van die min druif kultivars wat rondom die 1690s deur die Franse Hugenote vanaf die suidweste van Frankryk na Suid-Afrika gebring is. Dit word vandag nog beskou as een van die belangrikste witwynkultivars van Bordeaux.

Ander Name

Dit staan ook bekend as Hunter Riesling in Australië, Blanc doux, Colombier en Malaga in Frankryk en ‘Groendruif’ in Suid-Afrika. Rondom die 1820s was daar na die kultivar as die “Wyndruif” in Suid-Afrika verwys, omdat dit op daardie stadium so gewild was.

Produksie in Suid-Afrika

Meer as 90% van die wyndruif-aanplantings in Suid-Afrika het rondom die 1820s uit Sémillon bestaan. Die kultivar het egter guns verloor na die Phylloxera epidemie wat menigte wingerde in die 1880s vernietig het, sowel as die instelling van die KWV se kwotastelsel in die 1950s.

Teen 1995 het die area onder Sémillon produksie afgeneem tot minder as 1% van die totale aanplantings in die land. Alhoewel dit lyk asof steun vir die kultivar besig is om te herstel, het die hernieude belangstelling nog nie tot beduidend nuwe aanplantings gelei nie.

Produksiestreke

Olifantsrivier, Swartland, Klein Karoo, Paarl, Robertson, Stellenbosch, Worcester, Breedekloof en die Kaapse Suidkus.

Groeikrag

Groei goed in medium tot hoë potensiaal gronde, met opbrengste van 10t/ha tot 15t/ha. Die kultivar ontwikkel ’n klassieke groenvye karakter, wat in Suid-Afrika geassosieer word met goeie gehalte, wanneer dit op koel hange met blootstelling tot koel suidwestelike winde geplant word.

Fenologie

Word vroeg midseisoen ryp.

Korrels

Die groengeel korrels is rond, amper ovaal en van ’n medium grootte. Die dop is dun en sag. Die vleis is kleurloos, sag en sappig, met ’n grassmaak by volrypheid.

Blare

Die volwasse blare is van ’n medium grootte, rond en hoofsaaklik vyflobbig. Die blare is aanvanklik ’n ligte heldergroen kleur wat donker groen raak teen volwassenheid.

Peste en Siektes

Die kultivar is vatbaar vir donsskimmel en botrytis, veral wanneer dit op hoë potensiaal-alluviale gronde geplant word. Dit is ook sensitief vir windskade vroeg in die seisoen. Daarteenoor is dit hoogs bestand teen antraknose (swartroes).

Gebruik

Sémillon kan as ’n enkel kultivarwyn of versnit gebruik word. Dit word meestal met Sauvignon blanc gebruik om ’n klassieke Bordeaux-versnit te produseer, of met ander wit kultivars versny, hoofsaaklik Chardonnay. Sémillon word beskryf as ’n verkleurmannetjies, as gevolg van die kultivar se vermoë om so wye verskeidenheid smaakprofiele aan te neem.

Wyn

Die smaak hang af van klimaatsomstandighede, die tyd waarteen die druiwe gepluk word, the manier waarop die wyn verouder word en of die wingerde deur botritis geaffekteer word.

Die klone wat in Suid-Afrika beskikbaar is het ’n prominente grass of groen vye smaak. Dit is een van die min kultivars waar lowerbestuur gebruik kan word om die smaak te manipuleer. Die oopmaak van die lowers na korrelset lei tot sterk vrugtegeure, terwyl toe lowers meer geneig is tot grasagtige geure.

By Glenneis Kriel