Raap

© Louise Brodie

Naam: Raap
Wetenskaplike Naam: Brassica rapa

Plant Beskrywing

Die raap kom oorspronklik van Oos-Europa en die koeler dele van Asië. Daar word beweer dat dit al 4000 jaar gelede verbou is. Voorheen is dit deur die jagter-versamelaars bymekaargemaak waar dit wild in dele van Asië gegroei het. Die plant het donkergroen blare met effens getande rande en ligter groen stingels. Hierdie stingels groei tot omtrent 40 – 50 cm lank vanuit die bokant van die knol wat die hoof eetbare deel van die plant is. Die blare is egter ook eetbaar. Die knol is rond tot ovaal met ’n penwortel. Rape is ook gewild as ’n veevoer en word as ’n groen weigewas gebruik.

Gebruike

Rape word gekook, gebraai of gerooster en die blare kan ook gekook, gebraai of rou in slaaie geëet word. Gekookte rape kan ook soos gewone kapokaartappels geëet word en is baie smaaklik.

Grondvereistes en Voorbereiding

Rape gedy in ’n sanderige leemgrond wat genoeg organiese materiaal het en goed dreineer. Die grond kan effens suur wees met ’n pH van 5.8 – 7. Dit groei nie goed in swaar gekompakteerde grond met ’n hoë klei inhoud nie aangesien dit die knol-groei kan benadeel en die opbrengs verminder.
Indien daar onkruid tussen die raap plante groei kan daar ’n groot gewas verlies wees aangesien die jong rape se groei belemmer word. Daar moet dus in die paar maande voor planttyd streng onkruidbeheer toegepas word. ’n Grondmonster moet lank voor planttyd geneem word. Die nodige organiese materiaal, kalk en fosfate moet vier tot vyf weke voor planttyd tot ’n diepte van 500 mm ingeploeg word.
Dit kan met ’n skotteleg opgevolg word om enige onkruid af te sny en die area gelyk te maak. In die laaste week voor planttyd kan die area weer met ’n skotteleg omgeploeg word om enige onkruid te verwyder en te verseker dat daar geen klonte in die bogrond is wat die plant- en wortelgroei kan belemmer nie.

Klimaat

Die raap is ’n koel-klimaat gewas en kan as dit gevestig is effense ryp weerstaan. Dit gedy in temperature van 5 - 15°C. As die klimaat te warm is kan die rape draderig word en ’n bitter smaak hê.

Kultivars

Kultivars is Early Purple Top, Golden Globe, Goldie, Purple Top Milan, Purple Top White Globe, Seven top, Shogoin en White Egg. Die beste manier om op een te besluit wat vir die area se spesifieke groeitoestande en die mark geskik is, is om die raad van die plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of saadhandelaar te vra.

Translated by Ananda Schoeman