Raap Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Rape plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Raapsaad kan direk in die land gesaai word of saailinge kan gemaak word en uitgeplant word. Beide kan met die hand of meganies gedoen word. As daar direk gesaai word moet die saad 3 – 5 cm uitmekaar geplant word om gewas digtheid te verseker. Omtrent drie tot vier weke nadat dit geplant is, kan die rye tot die verlangde digtheid uitgedun word. Rape word in eweredige rye of “tram lines” geplant met genoeg spasie vir werkers en plaasimplemente. Sommige rape word in ’n gelykgemaakte bedding geplant en ander word in beddings wat opgeërd is geplant.

Spasiëring

Rape word 15 – 20 cm uitmekaar in rye wat 50 cm van mekaar af is geplant. Dit is omtrent 100000 – 120000 plante per hektaar.

Planttyd

Die raap is ’n koel-klimaat gewas en die groeiperiode moet dus gedurende die koeler maande wees. As daar in die lente geoes word moet die rape in Maart en vroeg April geplant word sodat dit voor die eerste ryp sterk kan word. Dit kan ook in Augustus en September aangeplant word, maar moet voor die intense somerhitte geoes word.

Groeiperiode

Dit vat omtrent tien tot twaalf weke vandat die saad geplant is totdat die rape reg is om te oes. Die blare oftewel “turnip greens” kan op ses tot agt weke, as die plant sterk genoeg is en die wortels ontwikkel het, geoes word. Slegs die buitenste blare moet geoes word sodat daar nog genoeg blare is vir die plant se groei en wortelontwikkeling. Die blare moet direk na die oes afgekoel word.

Bemesting

’n Grondanalise moet gedoen word en die aanbevelings gevolg word. Die volgende voedingsprogram kan gevolg word. ’n Week voordat die saailinge uitgeplant word moet 400 kg 2:3:4 (30) per hektaar in die boonste 20 cm grond ingewerk word. Dit verskaf die nodige voedingstowwe aan die raap direk na aanplanting en verseker goeie groei. Indien saad gesaai word moet die eerste bemesting, sodra die plante begin uitkom, al langs die plantrye toegedien word.
Twee tot drie weke later moet dieselfde bemesting weer al langs die plantrye toegedien word. ’n Verdere twee tot drie weke later moet ’n derde applikasie van 350 kg KAN (28) per hektaar toegedien word. Dit behoort genoeg te wees om die plante sterk te maak vir die oes. Doen voortdurend onkruidbeheer aangesien onkruid die plante se nodige voedingstowwe opneem en dus groei belemmer.

Besproeiing

Om ’n goeie opbrengs te verseker moet waterstres vermy word. Voor aanplanting moet die area vogtig, maar ook nie té nat wees nie. Die saad en saailinge moet in klam grond geplant word en na die tyd effens natgemaak word. Die belangrikste is om die grond vogtig te hou en die vogtigheid te monitor. Dit kan met ’n graaf met die hand of geïnstalleerde vogmeters gedoen word.
Nadat die plante gevestig is, is ’n weeklikse 30 mm water gedurende die koeler maande en 40 – 50 mm in warmer temperature genoeg. Hierdie hoeveelheid kan in twee of selfs drie besproeiings per week verdeel word. Onthou om die besproeiing aan te pas as dit reën en ook as die temperatuur styg en daar baie verdamping is.

Translated by Ananda Schoeman