Prei Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Preie plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Preie kan direk in die land gesaai word of in saadkassies in ’n kweekhuis. Sodra die saailinge omtrent 15 cm lank is, ongeveer 6 weke na saaityd, word dit in die land uitgeplant. Die meeste kommersiële produsente verkies die aanplant van saailinge aangesien dit ’n hoër opbrengs waarborg.
Dit is baie duur om preie met die hand aan te plant omdat dit ’n arbeidsintensiewe werk is. Beide direkte saai en die uitplant van saailinge kan meganies gedoen word. Om die beste gehalte wit stingels te verkry moet ’n voor van 15 cm diep gemaak word. Die saailing word dan in die voor geplant waarna die onderste stam en wortels toegegooi word. Vier weke later, sodra die plante gevestig is kan die grond opgeërd word om die stam verder te bedek. Die wit stingels se ideale lengte is 15 - 20 cm.
Onkruidbeheer is ’n groot uitdaging indien direkte saai in die lande gedoen word. Die plant van prei saailinge is meer gewild by kommersiële produsente aangesien effektiewe onkruidbeheer voor planttyd gedoen kan word.

Spasiëring

Plante moet 15 cm uitmekaar in rye wat 30 - 50 cm van mekaar af is geplant word. Effens groter rye moet indien nodig gemaak word vir plaasimplemente soos trekkers. Dit is ongeveer 120 000 tot 200 000 plante per hektaar. Die “baba” prei variëteite word nader aanmekaar geplant aangesien dit vroeër geoes word en onkruid nie sommer ’n probleem is nie.

Saaityd

Saai die prei saad in saadkassies tussen ses en agt weke voor die beoogde uitplant van die saailinge. In Suid-Afrika is die twee gewilde saaitye vir preie vroeg herfs en laat winter. Gewoonlik vroeg Maart tot vroeg April en dan weer in Julie en Augustus.

Planttyd

Prei saailinge word in April en Mei asook weer later in Augustus en September uitgeplant.

Groeiperiode

Preie wat direk in die land gesaai is neem omtrent ses maande voor dit reg is om te oes. So as die sade vroeg in Maart geplant word, is dit eers in Augustus of September gereed om te oes. Indien ’n gesonde saailing in die middel van April of vroeg Mei uitgeplant word, kan dit teen laat Julie of vroeg in Augustus geoes word. Die uitplant van prei saailinge bespaar dus ’n maand se gewasbestuur en geld. Jong sagte “baba” preie word baie gouer, op agt tot tien weke ná die uitplant van saailinge, geoes.

Bemesting

Soos met grondvoorbereiding genoem, is dit raadsaam om ’n grondmonster te neem en op grond van professionele aanbeveling die korrekte voeding vir die betrokke area toe te dien.Die volgende aanbeveling vir die plant van preie kan gevolg word.
Die week voor die saailinge uitgeplant word dien 250 tot 300 kg 2: 3: 4 (30) per hektaar in die boonste 20 cm grond toe as die saadbedding voorberei word. Dit bied onmiddellik voedingstowwe na die uitplant van die prei saailinge, sal die plant met goeie energie voorsien en ook help met die stres tydens die plantproses.
As saad gesaai word moet die eerste bemesting, sodra die nuwe plante uitkom, langs die plantry toegedien word. Twee tot drie weke later moet daar weer langs die plantrye bemesting gegee word. Na nog twee tot drie weke kan ’n derde toediening van 250 kg per hektaar KAN (28) langs die plantrye toegedien word. Dit behoort vir die preie voldoende te wees om volwassenheid te bereik en gereed te wees vir die oes.
Onthou om onkruidbeheer te doen aangesien onkruid die plante se voeding wegneem.

Besproeiing

Besproei die grond met 10 mm water die dag voordat jy die prei saailinge uitplant en 10 mm onmiddellik na planttyd. ’n Weeklikse besproeiing van tussen 20 en 30 mm verdeel in twee of drie toedienings gedurende die week sal goeie groei verseker. Dit is belangrik om die grond klam te hou, maar nie versadig nie.

Translated by Ananda Schoeman