Oumastories – Wegtrek van ongelukkigheid

Alicia Mdaka vertel hoe sy weggetrek het uit die Oos-Kaap na ongelukkige kinderjare saam met haar ouma en tantes.

Hulp was Byderhand

©Eric Miller
Terwyl ek in die Oos-Kaap gebly het was ek ‘n lawaaierige kind, maar ek het al stiller en stiller geword, en my onderwyser het my ellende raakgesien. Die skoolhoof het my na haar kantoor toe geroep en gevra wat fout was.
Ek het haar vertel van al die slae by die huis en sy het gesê dat sy aan my ma sou skryf. ‘Bring asseblief haar adres vir my,’ het sy gevra.

Daar was geen manier hoe ek die adres vir my ouma kon vra nie, maar ek het geweet dat sy ‘n stapel briewe gehad het wat sy in my ma se kis gebêre het. Eendag het ek die kis oopgemaak, die briewe uitgehaal en vinnig die adres neergeskryf.
Die skoolhoof het vir my ma geskryf en dit was dit. My ma het besluit dat ek na haar toe moes gaan in Kaapstad.

Dit was nie maklik nie, want my ouma wou my nie laat gaan nie. My ma moes my onderwyser vra om met haar te gaan praat. Maar uiteindelik is ek daar weg met die trein, terug na my ma toe.
Ek was vreeslik verlig om weer by haar te wees. Maar, die jare van ongelukkig wees en swak selfbeeld het aan my gevreet sodat dit selfs in Kaapstad nie goedgegaan het met my nie.
Ek het Groote Schuur Hospitaal toe gegaan waar hulle by die psigiatriese afdeling vir my sulke klein wit pilletjies gegee het. Ek vermoed dat ek reeds op daardie ouderdom vir depressie behandel is.

Translated by Elna Van Rhyn