Op 13 April 1976 het my lewe vir altyd verander. Toe my seun Anthony drie, en my seun Lennox net oor ‘n jaar oud was, het my man Xolile gesterf. Op sy doodsertifikat staan dat hy gesterf het aan chroniese nierversaking. Ek was toe in Tsolo in die Oos Kaap. Ek sou daar wees vir maande en dit was voor selfone, so die enigste manier van kommunikasie was deur middel van briewe.
Zolile het as petroljoggie gewerk in Durbanweg in Bellville. ‘n Paar weke nadat ek in Tsolo aangekom het, het Zolile se broer ‘n brief gestuur waarin hy gesê het dat ek moes terugkom Kaapstad toe want Zolile was siek. Zolile het gesterf op die dat dat ek teruggekeer het. Toe ek by die hospitaal aangekom het, het my ma daar gewag om vir my te vertel.
Dit was sewe uur die aand. Ek onthou dit duidelik. Daar was sy, saam met al die ander tantes, wagtend om vir my te vertel dat my man gesterf het. O, hoe seer het dit my gemaak.
Aan die begin van 1978 het ek ‘n kêrel, Julius, gehad en ons het ‘n seun, Nathaniel gehad. Na ‘n tydjie het ons ‘n tweede seun, Samuel gehad. Hulle het grootgeword en was goeie kinders.
Nathaniel het ‘n loodgieter geword en het begin om my huis te bou. Eendag was Nathaniel by ‘n vriend se huis waar hulle gedrink en pret gehad het. Toe Anthony by hom aangesluit het, het hy vir hom ‘n drankie gekoop. Sy vriende was dronk en het hom daarvan beskuldig dat hy hulle ignoreer het en toe steek een van hulle hom. Hy is dood. Hy was 24.
Nataniel het altyd alles in sy vermoë gedoen om my te help. Na sy dood was dit nie meer moontlik nie. Daarom het my huis vandag nog nie ‘n wasbak of krane of enige pype in die kombuis nie.
Om skottelgoed of klere te was moet ons ‘n kraan buite die voordeur gebruik. Ek het ‘n groot blou bad – die een wat my dogter Phyllis vir my gekoop het – maar ek het nog nooit geld gehad om dit te laat installeer nie, so dit staan maar net daar in die badkamer soos ‘n groot, blou olifant, wat net die plek vol staan.
My hart was baie seer na Nathaniel se dood. Na sy dood was Samuel die enigste een wat gewerk het. Hy het by ‘n bouperseel gewerk. ‘Ma, ‘n halwe eier is beter as ‘n leë dop’, het hy altyd vir my gesê. ‘Onthou, ek werk omdat ek jou wil help.’ Toe hy hoor dat Nathaniel se begrafnis R2900 gaan kos, het hy vir my R3000 gebring en gesê: ‘Huil oor die dood van my broer, Ma.
Ek wil nie hê jy moet huil oor die koste van sy begrafnis nie.’ Hy het geen idee gehad dat hy die volgende een sou wees nie. Toe is Samuel, my jongste, ook doodgesteek toe hy 22 was. Ja, twee van my seuns is doodgesteek. Dit gebeur met baie jong mans in ons 'townships'. Dit gebeur as hulle drink en laat uitbly; dikwels baklei hulle oor meisies. Baie van hulle het messe, so wannneer daar ‘n geveg uitbreek, is daar geweld. En deesdae het hulle selfs gewere.
Translated by Elna Van Rhyn