Ek besit my eie huis in Khayelitsha. Ons het dit eers by die Stadsraad gehuur, en toe gee hulle dit vir ons in 1985. Maar ek gaan dikwels saam met my dogter Zodwa en haar kinders na hulle plakkershut in Grassy Park, want Zodwa wil my naby haar hê. En ek moet daar wees, want dis dikwels vir my moeilik om te loop of selfs op te staan, omdat my bene so pyn van die artritis (gewrigsontsteking).
Vir geld het ons my staatspensioen en die bietjie wat ek soms verdien deur naaldwerk by GAPA, en Zodwa se ongeskiktheidspensioen. Sy kan nie praat nie, want haar tong is nie los nie. Dis vas aan die onderkant van haar mond. En sy het ook baie sleg verbrand. Dit was toe sy baie klein was, my man was toe nog in die polisie, en kookwater het oor haar uitgeval.
Zodwa wou altyd ‘n verpleegster geword het. Sy is goed met kinders en kyk goed na mense in lyding. Maar sy kon nie ‘n verpleegster word nie en die ding wat haar nou gelukkig maak, is om by haar familie te wees.
Dit gaan nou goed met my want my kleinkinders Luyanda en Zanele bly by my. Om na hulle om te sien maak my baie gelukkig. Ek hou nie daarvan dat hulle na naskoolse versorging toe moet gaan nie, want hulle kry koue kos daar en kom huis toe met maagviruse wat hulle mae laat werk.
Dis beter vir hulle om hier by my te wees. Ek maak seker dat hulle reg is vir skool en die bus haal om 7 uur. Hulle ry al die pad hier van my huis in Khayelitsha na Mitchells Plain. Dis ver, maar hulle doen dit want daar is ‘n beter skool. Die busgeld skool toe beloop R72,50 vir een kind per week en daar is twee van hulle, so dis baie geld. Hierdie maand moes hulle maar ‘n week lank by die huis bly want ons het geld vir die bus gehad nie.
Ek is bekommerd daaroor, want hulle sal nie byhou met hulle vakke nie. Ek wil hê hulle moet leer, baie leer. Hulle moenie sukkel soos ek gesukkel het nie. Ek wil hê hulle moet skoolgaaan en vorder tot by hoër klasse as ek, want ek het ‘n harde lewe gehad. Ons het nog geen klagtes van die onderwysers ontvang nie, maar ons het ook nog nie hulle skoolrapporte ontvang nie.
Hulle wil nie die rapporte gee voordat die kinders se skoolgeld betaal is nie, maar die skoolgeld is R400 per jaar vir elke kind. Ons het dit nog nooit betaal nie nie want ons het nie die geld nie.
In goeie tye het ons rys en vleis of hoender, en soms selfs vis en skyfies. As dinge sleg gaan, eet ons net mieliepap. Soms is daar geheel en al niks. Soms help ons bure met ‘n bietjie mieliepap of rys, en ons doen weer dieselfde vir hulle. My kleindogter Zimi bly nie by my nie, maar kom ook na skool na my toe, dus kyk ek na drie kinders.
Ons speel baie speletjies en hulle doen dinge wat my baie laat lag. Soms speel ons wegsteek – en – soek. Ek steek iets weg, soos my gordel, en hulle moet dit vind. Nou die dag het ons besluit die een wat die gordel vind mag my daarmee slaan. ‘Julle kan my maar slaan, ’het ek gesê, maar dit was ‘n groot grap en ons het almal net gelag.
Ons het vir jare in ‘n plakkershut gewoon en as dit gereën het, het die water teen die mure afgestroom. Die plek was vol water. Ons was desperaat om ‘n huis te kry. Ek het aansoek gedoen, en gewag. Elke jaar as ons gaan navraag doen het, was dit net beloftes, beloftes. Dit het 24 jaar geneem, maar uiteindelik het ek ‘n pragtige huis in Khayelitsha gekry.
Ons het twee slaapkamers met twee beddens in elk en twee hutte in die agterplaas waar die groter seuns en familie bly. Daar is altesaam 11 van ons. Jy sien, ek is ‘n goeie ma vir my volwasse kinders en kleinkinders. Hulle is lief vir my want ek het hulle so lief, wat hulle baie gelukkig maak. Ek is nie meer so jonk nie, maar ek versorg hulle goed, en hulle is nie wilde kinders nie.
Hulle luister as ek praat. Dis nie omdat ek streng is nie. My geheim is gebed. ‘Asseblief God, maak my kinders goed vir almal,’ bid ek. ‘Dankie, God, dat U my help.’ Dit werk.
Translated by Elna Van Rhyn