Ouma Stories – Die Swaarkry van Kinders Agtergelaat

'Die Grandmothers Against Poverty and Aids' groepslede deel hulle ervarings oor om van hul kinders geskei te word om te gaan werk, sodat hulle finansiële stabiliteit of ‘n beter lewe kon hê wat nie andersins moontlik was nie.

Beauty Skefile

©Eric Miller

Toe ek in Kaapstad aangekom het, het ek werk gekry by Mev Dodson, ‘n baie gawe vrou, in Seepunt. Vir agt jaar het ek ‘n inslaap-werk by haar gehad. My kinders het in Gugulethu gebly en ek het naweke na hulle toe gegaan. Die vrou by wie hulle gebly het was goed vir hulle en ek was tevrede dat hulle daar gebly het. Maar toe verhuis Mev Dodson oorsee en ek verloor my werk.

Ek het nie meer geld gehad om die vrou te betaal by wie my kinders gebly het nie, toe stuur ek hulle terug Transkei toe, na my pa toe. Al was hy ‘n man wat op sy eie na vyf kinders gekyk het, was my pa goed vir hulle. As hulle gesê het hulle wil nie na die beeste en skape gaan kyk nie, as dit miskien te koud was, het hy gesê dit was goed. Hy was gaaf teenoor hulle.

Maar in 1972, omtrent agt jaar later, het ek my kinders gaan haal. Ek het hulle te veel gemis en wou hulle by my hê. Ek het hulle almal teruggebring Kaapstad toe.

Felicia Mfamana

©Eric Miller

Ek was 39 en was nog nooit voorheen ‘n huishulp nie, maar teen daardie tyd het ek vyf kinders gehad om te versorg. Daar was nie veel keuse nie. Ek was altyd baie na aan my suster, Neliswa. Haar eie man het in Kaapstad gewerk, maar sy het aangebied om na my kinders, saam met haar vier, te kyk.

“Hulle is my suster se kinders” het sy gesê. “Natuurlik sal ek na hulle kyk.” Hulle sou nie hongerly nie. Hulle sou kos van die lande en melk van ons koeie hê, en ek het beplan om geld terug te stuur vir die skooluniforms, boeke en alles wat hulle sou nodig hê. Dit was ‘n aaklige gevoel om op daardie bus te klim en my kinders agter te laat vir wie weet hoe lank.

Tenjiwe Tutu

©Eric Miller

Waar was my kinders terwyl ek daardie inslaap-werk gehad het? Vra my dit en jy maak ‘n groot trauma wakker. Die persoon wat na my kinders gekyk het was nie goed vir hulle nie. Dit was wreed teenoor ons dat ons nie by ons kinders kon wees nie en nou, as hulle stout is, dink ons dis omdat hulle grootgeword het sonder ons.

Ek moes my eerste kind by iemand in Gugulethu laat bly. Toe ek op een van my afnaweke daarheen gegaan het, was die vrou gaaf teenoor my en het vir my koeldrank en ‘n sny brood gegee. Maar toe my kleintjie, wat twee of drie jaar oud was, ook vra vir ‘n stukkie brood, het sy gesê: ‘Nee, jy het genoeg gehad.’ Ek kon sien my kind bedel letterlik vir kos.

My hart was so, so seer. Dit is ‘n baie groot pyn vir kinders om sonder hul ma groot te word. Ek het probeer om my kinders na ‘n niggie toe te neem op die platteland, maar dit het ook nie veel gehelp nie want eendag het Mev Truter ‘n telegram ontvang wat gesê het dat ek die kinders binne twee weke moes kom haal. Ek het nie geweet wat om met hulle te doen nie, want ek moes eenvoudig aanhou werk. Mev Truter het gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Gaan soek ‘n pek waarheen jy jou kinders kan neem.

Jy hoef nie haastig te wees nie. Vind eers iemand wat sal goed kyk na hulle.’ Die mense vir wie ek gewerk het was so jammer vir ons. Hulle het gesê as die wet anders was, en dit het net van hulle afgehang, sou hulle vir my ‘n plek gegee het waar ek saam met my kinders kon bly. Maar as gevolg van die wet kon hulle niks doen nie.

Translated by Elna Van Rhyn