Ek het my gesin se eie huis gebou in ‘n plakkerskamp naby St Mark’s. Ek het dit op die tradisionele manier gedoen, met kleistene gepleister met ‘n mengsel van beesmis en klei.
Ek het iemand gehuur om kleistene te maak. Toe het ek die kleistene met ‘n kruiwa na die bouer toe geneem en water aangedra in ‘n emmer op my kop. Nadat die mure gebou is, het ek die pleistermengsel oor die kleistene gesmeer. Ons het hard gewerk dwarsdeur die winter toe daar nie reën was nie en binne ongeveer ses maande het ons ‘n huis gehad, met ‘n slaapkamer, eetkamer en kombuis.
Kort nadat ons getroud is, is Otto weg Saldanhabaai toe in die Wes-Kaap om by die Saldanha Bay Canning Company te gaan werk. Hy het geen keuse gehad nie. Daar was geen werk in die Transkei nie. Hy was weg vir 23 jaar en in al daardie tyd het ons mekaar slegs vir die drie weke van sy jaarlikse verlof gesien.
Vier jaar na ons troue, nadat Vusi, ons oudste kind gebore is, is ek vir ‘n rukkie met die baba na Langa in Kaapstad om nader aan Otto te wees, en ek het by sy tante Nomalizo gebly. Die polisie het die strate gepatrolleer en mense se passe gevra, so ek moes in die huis bly en wegkruip.
Nomalizo en haar kinders het passe gehad. ‘Jy is welkom hier, maar moenie gedurende die week in die lokasie rondloop nie, anders sal die polisie jou kry,’ het sy my gewaarsku. Oor naweke was dit baie beter. Die polisie het huis toe gegaan en ons kon dorp toe gaan. Hoe wonderlik was Kaapstad nie – met winkels vol klere en vleis - alles soveel goedkoper as in die Transkei.
Ek kon ook later vir Vusi na ‘n goeie dokter toe neem vir ‘n ondersoek. Later het Otto vir my ‘n naaimasjien en ‘n breimasjien in Kaapstad gekoop. Hulle het my soveel plesier verskaf want ek hou daarvan om goed te maak. Maar om gedurig net binne te bly was onmoontlik. Ek was in Kaapstad vir ‘n maand, toe is ek weer terug.
Sommige jare was baie frustrerend vir Otto. Hy het eenkeer ‘n werk in Kaapstad gekry by die hoofkantoor van die voedselwerkersunie, om saam met die algemene sekretaris, Jan Theron te werk. Hulle het na maatskappye gegaan om dispute tussen werkers en hul werkgewers uit te sorteer.
Dit was so ‘n moeilike situasie vir Otto. Hy wou die werk gehad het, maar as die polisie hom betrap het sou hy tronk toe gaan en waar sou dit my en die vier kinders laat? So, al was dit hoe moeilik vir man en vrou om apart te bly, het ons geen ander keuse gehad nie. Eers nou, terwyl ons altwee reeds afgetree is, bly ons saam en spandeer al ons tyd saam, en leer ken mekaar behoorlik.
Ons is tevrede by die huis. Nou die dag het ek vir my man gesê ek wil ‘n tweede troue hê en al die mense nooi wat ek ken, oud en jonk, sodat hulle kan sien ons trou vir die tweede keer. En toe sê hy, ‘En wat gaan ek aantrek?’ Ek sê toe, ‘O, ons sal ook ‘n koei nodig hê – ‘n vette – en ‘n skaap, om fees te vier.’ ‘Ons beter begin werk sodat ons kan spaar, want nie een van ons het meer ‘n werk nie en ons gaan ‘n klomp geld nodig hê,’ het hy gesê.
Toe sê ek vir hom, ‘Sien jy dat jy te jaloers was om my toe te laat om ‘n onderwyser te wees, maar nou laat jy my gaan?’ ‘Ja, want jy is oud,’ het hy gesê. ‘Niemand gaan nou meer met jou trou nie.’ O, ek het uitgebars van die lag. Ek het gelag en gelag totdat daar trane in my oë was.
Translated by Elna Van Rhyn