Ek was in my eerste skooljaar toe my pa, wat ‘n onderwyser was, gesterf het. Ek het geweet hy is siek, maar nie wat die probleem was nie. Ek het een baie helder herinnering uit daardie tyd. Op die dag wat hy gesterf het, het vir my ma gevra, 'Kook asseblief vir my ‘n maaltyd wat ek nooit sal vergeet nie.
En vra my dogter om dit met my te kom deel.' Sy het vir hom ‘n volledige maaltyd gekook met hoender, en groente uit die tuin – aartappels, wortels en kool. Toe sy bord voor hom was, het my ma my geroep. My pa het een lepel gevat en ek ‘n ander en ons het saam-saam sy bord kos geëet. Ek besef wat hy daardie dag gedoen het. Hy het my vir oulaas gegroet.
Nadat hy dood is, het ek na skool my poppe gevat en begraafplaas toe gegaan en op sy graf met hulle gespeel. Op ‘n vreemde manier, die manier van ‘n kind, was ek baie gelukkig daar. ‘My troosbed,’ het ek die graf genoem, en sou ure lank daar bly. Ek het selfs soms aan die slaap geraak daar op die grond. Toe het ek nie besef wat ek besig was om te doen nie, maar nou besef ek dat ek beter gevoel het daar op die plek waar ek die naaste aan hom gevoel het.
My gedrag by my pa se graf het my ma seergemaak. Dalk het dit te veel hartseer in haar laat ontwaak. En sy was bekommerd oor my. Aan die einde van daardie jaar toe ek my eerste skooljaar geslaag het, het sy my weggestuur om by my ouma te gaan bly in Tsolo, in die Oos-Kaap.
Buitendien was my ma ‘n huishulp en sy het dit moeilik gevind om na my te kyk gedurende die dag. In die Xhosakultuur is dit hoe dinge dikwels werk – as die ma werk, stuur sy die kinders na die grootouers toe wat hulle grootmaak.
So, toe gaan ek na my ouma toe in Tsolo en ek daar het ek presteer in die skool. Daar het ek geleer om ‘n lof sanger te wees – die een in ons orale tradisie, wat mooi aantrek en sing en dans om ‘n groot opperhoof of voorvaders te prys. By GAPA is ek dikwels die lof sanger vir al die oumas en ek sing, brul, en stamp my voete met die krag van ‘n jong man. Almal is verstom as hulle dit sien.
My skooljuffrou in Tsolo, Agnes Kenu, het dikwels toneel gespeel en gesing en gedans wanneer sy vir ons klas stories vertel het. Ek het so opgewonde geraak wanneer sy dit gedoen het dat sy begin vermoed het dat ek dalk dieselfde talent het. Sy het begin om my vorentoe te roep sodat ek dit saam met haar kon doen.
Ek het gedy onder al die aandag en was trots omdat ek gesien het ek leer vinnig en maklik teenoor die ander kinders. Ek was nie ‘n engeltjie nie; ek het ook kattekwaad aangevang in daardie jare.
Ek onthou eendag toe my juffrou uit die klas was het ek op haar tafel gaan sit, vol selfvertroue en stoutigheid. ‘Reg, nou gaan ons wiskunde doen,’ het ek vir die klas gesê en op die skryfbord begin skryf. Hulle het gelag. En net toe kom die juffrou terug.
‘O, ek is jammer, - jammer, jammer, ek sal dit nie weer doen nie,’ het ek nederig gesê en teruggesluip na my bank toe. Ek was miskien onnutsig, maar ek was nooit ongeskik nie, en my juffrou het aangehou om vir my lief te wees.
Translated by Elna Van Rhyn