My tantes, Robina en Theresa en hulle kinders, het by ons gebly in my ouma se kleihuis. Hulle het my elke dag geskel en geklap oor alles wat ek verkeerd gedoen het. Hulle kinders kon niks verkeerd doen nie, maar ek kon niks reg doen nie, al het ek my bes gedoen in die uitvoering van my pligte soos om die koeie te melk en die lande te ploeg.
Een voorval laat my nou lag as ek daaraan dink. Ek onthou dit nou. Ek is winkel toe gestuur, maar langs die pad is my aandag afgelei deur ‘n balspelery. Toe ek by die huis kom het my ouma vir my ‘n preek afgesteek oor laatkommery. Van haar woorde het regtig indruk op my gemaak. ‘Weet jy wat, my kleindogter? Die vroeë voëltjie vang die vetste wurm,’ het sy vir my gesê.
Ek het haar woorde ter harte geneem en gou, toe niemand kyk nie, het ek in die grond rondgekrap op soek na die vetste wurm. Die waarheid is dat ek nie die vaagste benul gehad het waarna sy verwys het nie. Maar ag, daardie jare was aaklig en die ongelukkigheid wat ek ervaar het, het gemaak dat ek myself bevraagteken het.
‘Ander kinders is gelukkig by hulle oumas. Hoekom nie ek nie? Ek het begin wonder, ’Is daar iets fout met my? Wat is die nut van my lewe? Waarom is ek gebore?’
Ek het grootgeword deur na my pa se bokke, skape en koeie te kyk in die berge op sy plaas, Kleinplaas, naby Cradock in die Oos-Kaap. Dit was ‘n groot plaas, met honderde diere. My suster en ek het saam na hulle gekyk en ons was baie gelukkig. Vir my was my kinderdae ‘n wonderlike tyd. My pa was ‘n welgestelde man omdat hy so baie diere gehad het.
My broer het weggegaan Johannesburg toe om na werk te gaan soek, en net ek en my suster was oor om na die diere te kyk. So, toe haal my pa my aan die einde van standerd drie uit die skool om hom te help. My ma was nie gelukkig daaroor nie. Sy het gesê, ‘Jy moet skool toe gaan want later in jou lewe sal jy opleiding nodig hê.’ Maar my pa, wat my innig liefgehad het, het nie saamgestem nie en my toegelaat om na die diere te kyk.
As jy saam met kinders van baie families wat almal saambly, grootword, word jy altyd beskuldig wanneer iets verkeerd loop. En as jy ‘n kind is, verstaan jy nie hoekom nie. My tante het ‘n seun gehad was net ‘n bietjie ouer was as my suster, en hy was baie stout. Wanneer hulle saamgespeel he, sou hy haar slaan, net omdat sy kleiner as hy was.
As sy gehuil en by my tante gaan kla het, het sy dit geensins opgemerk nie. Ek was baie jammer vir Nothemba. Daar was ook ‘n dogter wat ouer as ek was wat vreeslik gejok het. Sy sou vir my tante vertel dat ek lelike goed oor haar gesê het en gedurig saam met klomp seuns rondgehang het. My tante het my so met ‘n stok geslaan dat ek bly lê het.
Translated by Elna Van Rhyn