Ek het eendag my jongste seun, Pule, winkel toe gestuur om brood en suiker te gaan koop. Toe hy op pad terug was deur die lang gras, het dit begin reën. Kort voor lank was daar ‘n donderstorm. Hy is getref deur ‘n weerligstraal. Hy was 18. Mense het agterna na my huis toe gehardloop en vertel dat hulle hom sien hardloop het en hom sien val het.
‘O Goldie, ons is so jammer,’ het hulle gesê. ‘Hy is daar, op die heuwel.’ Toe ons by hom kom, was hy reeds dood. Hy moes onmiddellik gesterf het. Daar is altyd die gevaar om in die somer in die Oos-Kaap deur weerlig getref te word.
Selfs nou, toe ek in Maart teruggegaan het, het ek gehoor dat dit met ‘n paar mense gebeur het. Dis iets waarmee ons saamleef. Maar ‘n mens is nooit daarop voorberei in jou eie familie nie. Dood mag ‘n alledaagse ding wees, maar ‘n mens raak nooit daaraan gewoond nie.
Nadat twee van my kinders gesterf het aan MIV/Vigs, het ek gesê, ‘Hoekom elke keer ek? Waarom moet een van my kinders elke tweede jaar sterf? Hoekom ek?’ Ek is baie streng grootgemaak, en het altyd die regte ding gedoen, en ek kon nie verstaan waarom al hierdie hartseer met my gebeur het nie.
In my hart het ek my ouers begin blameer, omdat ek in die eerste plek nie wou trou nie. Ek het gedink dat ek wou gaan verpleeg of onderwys gee, maar my man wou dit nie toelaat nie. Toe dink ek, nou ja, nou het ek kinders by hierdie man, maar hulle gaan almal dood. Wat is die punt daarvan? Selfs terwyl ek al hierdie verwarring ervaar het, het ek besef dat my man ‘n goeie man was.
Hy was ook verwese deur die kinders se dood. Maar hulle dood het my besonder swaar getref. Ek het heeldag by die huis gebly en net gedink, vasgevang in my smart. Ek kon nie die gedagte aan kos verdra nie. Ek wou nie ander mense sien nie. Ek sou my wasgoed was en die huis en die erf skoonmaak, maar daarna het ek net weer ingegaan en gaan lê.
Ek het geweet my kop was nie reg nie. Skielik het ek besef dat iets sal moet verander. ‘Wat doen ek? Ek sit net heeldag alleen hier en doen niks! Toe sê ek vir myself, ‘Ek kan nie so voortgaan nie. Ek moet teruggaan Kaapstad toe om by my man te wees.
Ons moet met mekaar praat en besluit wat om te doen.’ Ek het verlore geraak in ‘n droom van my eie besigheid en het begin beter voel. Toe gaan ek Kaapstad toe en vra vir Otto om vir my ‘n meer moderne naaimasjien te koop en toe begin ek die besigheid waaroor ek begin droom het.
Die meeste aande lees ons saam uit die Bybel. Die vers wat vir ons die meeste vertroosting gebring het is van die apostel Timoteus, waar hy iet sê soos, ‘Op die ou end, wanneer Jesus kom, sal die kinders nie hoor nie. Baie sal sterf.
Mense sal geld liefhê.’ Ons het gedink, ‘Hoekom dink ons al hiedie slegte goed as God aan ons ‘n Bybel gegee het, wat nie sommer net ‘n gewone boek is nie? Dis geskryf deur die profete. En alles wat gebeur staan in die Bybel.’ Ons het begin om baie gelukkiger te voel. Ek het voortgegaan met my naaldwerk, hekelwerk en breiwerk. My smart het bedaar.
Translated by Elna Van Rhyn