‘n Paar maande nadat ek Victor ontmoet het, toe ek 20 was, is ons getroud. Dit was ‘n wit troue en al die mense van die gemeenskap het gekom, honderde van hulle. Dit was wonderlik. Vir die eerste 10 jaar van ons huwelik het ons genoeg geld gehad en ons was gelukkig.
Victor het vir my en die kinders klere gekoop en ons versorg op elke manier waarvoor ons kon wens. Ek het gedink dinge sou so bly vir altyd. Maar toe bedank hy, want hy wou teruggaan Qunu toe in die Oos Kaap waar hy vandaan gekom het. Dit was waar die probleem begin het. Vir ‘n rukkie het alles goed gegaan in Qunu.
Ons het in ‘n baksteen huis gebly en ons lande geploeg en mielies en pampoene geplant. Omdat ons baie kos produseer het, was ons nooit honger nie. Maar Victor het nie meer ‘n werk gehad nie. Miskien het dit hom depressief gemaak. Nietemin, dit was toe hy my begin slaan het.
Hy het dronk by die huis gekom en as hy my en die kinders daar sien sit het wou hy ongeskik weet: ‘Waar’s my kos?’ Dan sou hy met my begin baklei deur vrae te vra net om ‘n rusie te begin, en elke keer het hy my geslaan. Hy het besluit om ‘n tweede vrou te neem, die vrou van sy broer wat gesterf het.
Dit is ‘n Xhosa gebruik, om seker te maak dat die weduwees en kinders versorg word. Maar vir my was dit ondraaglik. As ek teruggepraat het, het hy my geslaan. Daar was geen liefde meer in my huwelik nie en ook niks goed meer in Qunu nie. Ek het my goed gepak. Dit sou beter wees om in Kaapstad te sukkel – my huis – as daar.
My man, Milton, se broers, susters en ma was almal goeie mense, maar hy was lui en ‘n boelie. Hy het geld verdien deur mense se huise reg te maak, maar het my nooit ‘n sent gegee nie. My skoonma het geweet hoe hy is en het dit glad nie goedgekeur nie. Sy het vir my kos en geld gegee vir die kinders.
Nomanani, ons oudste kind is gebore en toe Noxolo, Nonkosi, en Phumla en steeds het Milton niks gedoen om vir ons te sorg nie. Hy het baie gedrink en sou middernag huis toe kom en ons almal wakker maak en luidkeels vra, 'Vir wat slaap julle? Waar is my kos?' Die eerste keer toe hy my geslaan het was toe ons tweede kind, Noxolo, ‘n baba was.
Nege jaar later het ek hom verlaat. Hy was heeldag en heelnag weg en omtrent middernag, soos gewoonlik, het hy weer aan my deur geklop. ‘Ek’s honger. Waar’s my kos?’ wou hy weet. ‘Daar is nie kos nie want jy het nie vir my geld gegee om te koop nie,’ het ek gesê. ‘Moenie vir my lieg nie. Jy verkoop lekkergoed en jy het geld,’ het hy gesê. ‘Daardie geld is vir die kinders se kos,’ het ek geantwoord. ‘Dis nie jou geld nie.’ Hy het my begin slaan en wou nie ophou nie.
Hy het my in die gesig geslaan en toe ek op die grond lê het hy my begin skop. ‘Ek gaan jou doodmaak,’ het hy geskreeu. My suster Nelsiwa het by ons gewoon. Sy het begin huil en skreeu en probeer om tussen ons te kom om hom weg te stoot. ‘Nee, maak my eers dood,’ het sy geroep.
‘Maak my dood voordat jy my suster doodmaak.’ Ons buurman het al die lawaai gehoor en aangehardloop gekom. ‘Stop dit! Dis jou vrou!’ het hy geskree terwyl hy Milton van my aftrek. Hy het die polisie gebel. Hulle het nie gekom nie, maar Milton, in sy dronkenskap het bedaar. Die volgende oggend is ek weg.
Translated by Elna Van Rhyn