Op ‘n dag het ons besluit dat ons moeg was van bang wees en dat ons gaan bly sit. ‘As hulle ons wil doodmaak, moet hulle maar,’ het ons gesê. ‘Ons kan nie meer anders nie.
Ons gaan sit.’ Die volgende keer toe die polisie met hulle honde gekom het, het ons net daar gesit. Hulle het gevra: “Wat gaan aan?” Ons het gesê: “Ons hou daarvan om hier te sit. Ons gaan nie weggaan nie want ons het nêrens anders om heen te gaan nie.” Hulle het weggegaan. Toe gaan ons weer na die Black Sash en vertel hulle.
Hierdie keer het die Black Sash gesê: “Doodreg. Dis goed.” Die polisie het weer en weer gekom, en ons uitgelos. Soms het hulle ons bang gemaak en hul honde nader gebring asof hulle die honde weer op ons gaan sit.
Maar ons het net gebrom en hulle gevloek, en aangehou dat ons nêrens heen gaan nie, en hulle is weer weg. Hulle het ons nie geskiet nie. Hulle het ons nie probeer doodmaak nie. Hulle wou ons bangmaak en ons wegjaag.
Eendag het die ANC leier in die Crossroads area, Johnson Ngxobongwana, ons almal vir ‘n vergadering byeengeroep sodat ons ‘n plan kon maak met ons probleme. Hy het gesê dat ons bymekaar moet kom buite die Uxolo skool om te protesteer en vir die polisie te sê dat ons nêrens heen gaan nie.
So, toe gaan ons almal, die kinders en almal. O, dit was ‘n slegte dag! Jo, jo, jo! Daar was omtrent 500 van ons. Die polisie het weer gekom met hulle groot voertuie, honde en gewere. Ons het Nkosi Sikilel’iAfrika buite die skool gesing, omtrent 500 van ons. Hulle het ons deur hulle luidsprekers beveel om weg te gaan. Ons het geweier. En toe bestorm almal van hulle ons.
Hulle het ons geslaan met sambokke en stokke. O, hulle het ons geslaan! Party babatjies het op die grond gelê. As jy skoene aangehad het, het jy weggehardloop en jou skoene verloor. Die kinders is vermink, sommige babatjies het seergekry. Jo, jo, jo! Daardie dag, dit was ‘n groot dag. Amper almal het seergekry. Ek het nie seergekry nie. Ek het weggehardloop.
Ek was nog jonk en kon nog (vinnig) hardloop. Maar nie almal het weggekom nie. Hulle het Ngxobongwana in die vangwa gelaai en na die bos geneem waar hulle hom geslaan het, hulle het hom geslaan. Daarna het hulle hom teruggebring en by die skool gelos. Hy het gebloei, hy was hopeloos, sy ribbes gebreek en sy een arm ook. Hy kon niks doen toe hy daar terugkom nie.
Hy was gebreek. Hy moes hospitaal toe gaan en dit het ‘n lang tyd geduur, miskien drie maande. Daarna was hy beter. Hy het voortgegaan om ons leier te wees. Toe die polisie daarna gekom het, het ons almal net daar gesit – hy ook.
Een van die dae waarop ons geweier het om te gaan was net nadat my dogter ‘n baba gehad het, in 1978 of 1979. Mnr Basson, die polisieman, het weer gekom en ons daar sien sit op die warm sand in die son met die baba. Toe sê hy vir my: “Ouma, waarom bly jy hier? Waarom gaan jy nie net huis toe nie?” En ek sê: “Waarheen kan ek gaan?
Daar is geen ander huis vir my nie.” Toe vra hy: “Waar is jy gebore?” Ek sê: “Ek is in Wynberg gebore en julle mense het ons daar weggejaag.” Hy sê: “Jy is gebore in Wynberg, Kaapstad?” Ek sê: “ Ja, en julle mense het ons weggejaag.” Hy het my nooit geantwoord nie. Toe gaan hy weg. Dit was die laaste keer dat hy gekom het.
Wat ek gesê het was waar. Ek is nie seker waarom hulle nie weer gekom het nie, maar hulle het ons in vrede gelaat en ons kon ons hutte opslaan en ons het daar gebly.
Translated by Elna Van Rhyn