‘n Ouma se Verhaal Oor Hoe Die Geskiedenis Homself Herhaal

Ouma Alicia Mdaka vertel hoe moeilik dit was om ‘n enkelouer te wees na die dood van haar man.

Xhosakultuur na die Begrafnis

©Eric Miller

Na my man se begrafnis het my ma my seun, Anthony, saam met haar na Gugulethu geneem want ek moes teruggaan Oos-Kaap toe. In die Xhosa-kultuur word dit van jou verwag om vir ‘n jaar by jou oorlede man se familie te gaan bly en swart te dra vir daardie periode om te wys dat jy rou.

Nadat die jaar verby is, het ek gevra om terug te gaan Kaapstad toe sodat ek kon werk om my ses kinders te onderhou. Ek het hulle in die Oos-Kaap agtergelaat en in Kaapstad gewerk as ‘n huishulp, nes my ma gedoen het. Eendag het ‘n buurman vir my kom sê dat my kinders mishandel word in Tsolo.

As die koeie of skape nie huis toe gekom het nie, is Kenneth geslaan en het hy weggehardloop na sy geheime wegkruipplek – ‘n hoek van die tuin – en daar weggekruip in die lang gras. Net sy suster, Phyllis het geweet waar hy was en sy het nooit vir iemand gesê nie. Die buurman het gesê dat die kinders soms nie eens mag skool toe gegaan het nie.

En dit was my hoof bekommernis. My kinders moes ten alle koste skool toe gaan. Ek moes seker maak dat hulle voorberei is vir die toekoms. ‘n Kind met ‘n opvoeding het ‘n baie beter kans in die lewe, het my ma altyd gesê. ‘Jou pa was ‘n onderwyser en hy het ‘n beter lewe gehad omdat hy ‘n opvoeding gehad het,’ het sy vir my gesê.

Dieselfde Situasie, Dieselfde Resultate

©Eric Miller

Dit mag eienaardig klink dat ek as kind mishandel is deur my uitgebreide familie en dat dieselfde nou besig was om met my kinders te gebeur. Dit het so gebeur want ons situasies was dieselfde. In ons kultuur het die moeder en die kinders ‘n laer status as ander familielede indien die kinders nie ‘n pa het nie, of as die pa nie daar is nie. ‘Mamma, ek kan dit nie verdra nie,’ het ek vir haar gesê.

‘My kinders moet na my toe kom.’ Ek was ‘n inslaap-bediende op daardie tydstip, met ‘n kamer aan die agterkant van die huis waar ek gewerk het in die voorstad Heathfield. Daar was geen plek vir die kinders saam met my in daardie klein kamertjie nie.

Vir ‘n rukkie het Anthony by my ma gaan bly in Gugulethu, maar my stiefpa het nie daarvan gehou nie. Dit was toe dat ek ‘n plakkershut in Philippi gebou het – sodat ek by my kinders kon wees.

Wilde Seuns

©Eric Miller

Dit was baie moeilik om hulle alleen groot te maak. Hulle het wild geraak, veral die seuns. Anthony het die skool verlaat in standerd sewe, die tweede hoërskooljaar, en Kenneth in die laer primêre skool.

Daar was dae dat ek vir myself gesê het, ‘As my man nog gelewe het, sou my kinders nie so stout gewees het nie. Die seuns sou nie gedrink en skool gebank het nie.’ Wat ‘n vermorsing van hulle potensiaal was dit nie.

Ek onthou byvoorbeeld dat Kenneth goed kon teken en so ‘n mooi handskrif gehad het. My seuns kon soveel meer gedoen het.

Translated by Elna Van Rhyn