Oumastories oor Kindergeboorte en Verlies

Grandmothers Against Poverty And Aids (GAPA) lid Alicia Mdaka vertel van haar kinders se geboortes en sterftes.

Reiniging van die Baarmoeder

©Eric Miller

In 1960 is my eerste kind, Mthuthuzeli, gebore. Hy het gesterf toe hy ses maande oud was. My tweede en derde kinders het ook ‘n paar maande na geboorte gesterf.

Ek weet nie hoekom nie, Maar dis maar hoe dit was in daardie dae. Baie kinders het gesterf. ‘n Mens kon nie die regte behandeling in die hospitale kry soos vandag nie.

Ek is seker dit was deel van die die rede. Drie kinders wat gesterf het was verskriklik hartseer, maar my ouma het vir my gesê ‘Moenie daaroor bekommerd wees nie. Jy is net besig om jou baarmoeder skoon te maak vir die vele kinders wat jy nog eendag gaan hê.’ Haar woorde het my regtig gehelp om die situasie te hanteer.

Datums om te Onthou

©Eric Miller

In 1964 het ek ‘n lewendige baba, genaamd Olive, gehad. In 1966 het ‘n volgende een gekom – Phyllis, die een wat nou al in haar vyftiende jaar met MIV/Vigs is. Kenneth is in 1969 gebore en Prudence, wat dood is aan Vigs, nes Olive, is twee jaar later gebore. In 1972 was ek stout.

Niemand het meer as vier kinders nodig nie, maar ek het my vyfde kind, Anthony, gehad en in 1975 nog een, Lennox. Ja, ek is goed met datums onthou. Ek onthou alles wat met my familie gebeur volgens datums, die dag van elke geboorte, en die dag van elke sterfte. Deesdae vergeet ek tog soms dinge.

Die een dag steek ek iets weg in ‘n veilige plek, en die volgende dag het ek vergeet waar dit is. Maar die meeste van die datums wat met my familie te doen het onthou ek baie duidelik.

Translated by Elna Van Rhyn