‘n Ouma se Storie Oor Die Lewe in ‘n Plakkershut

Beauty Skefile herleef haar ervaring van hoe hulle ‘n plakkershut in Crossroads, Kaapstad vir hulle familie gebou het.

Bou van ‘n Hut

©Eric Miller

Ons het na Crossroads gekom om ‘n hut te bou. Ons moes eers die bome met ‘n panga afkap om plek te kry om ‘n hut op te rig. Ons het nie geweet hoe om dit te doen nie, maar Nomhle en ek het by seuns geleer wat daar was. Hulle het vir hulle hutte gemaak van stokke en ‘n groot bruin stuk spoorwegseil. Ons het ook so ‘n stuk seil op die die ashoop gekry.

Sommige mense het nie van die seil gehou nie want dit was stukkend, maar ons het dit gebruik. As ons ‘n klein stukkie gekry het, het ons dit met draad vasgewerk aan die groter stuk. As die wind gewaai het, het die seil weggewaai. Dit laat my lag om dit te onthou. Ons kon nie ‘n bed koop nie, toe gebruik ons ‘n houtdeur wat ons op die ashoop gekry het en sit dit op blikke om dit van die grond af te lig. Daar was nie ‘n matras nie.

Ons het komberse wat ons op die ashoop gekry het gewas en onsself daarmee toegemaak, grootmense en kinders. Ons het hierdie beddens ons ‘plankbeddens’ genoem. Ons het vier van hulle in ons hut gehad, met ‘n grootmens en ‘n kind op elkeen. Ons het baie komberse op die ashoop gekry, dus het ons nooit koud gekry nie, nie eens in die winter nie.

Om ‘n stoof te maak om op te kook, het ons ‘n groot blik geneem en gate daarin gemaak met ‘n skroewedraaier. Ek het gesien hoe my vriende so ‘n stoof gebruik en hulle gevra hoe hulle dit gemaak het, en hulle het my gewys. As iemand die blik gedurende die dag gesteel het terwyl ons weg was, kon ons bloot teruggaan na die ashoop en ‘n ander een kry.

Translated by Elna Van Rhyn