In Mei 2001 het my plakkershut met al my besittings daarin, afgebrand. Die vuur het by die voordeur ontstaan en ons sou binne vasgekeer gewees en doodgebrand het as ‘n goeie Samaritaan nie die vlamme gesien en die deur van buite af met ‘n koevoet oopgemaak het nie. Vuur is ‘n vreeslike bedreiging as jy in ‘n plakkershut woon.
Ons het nie elektrisiteit nie, en as ‘n paraffienstoof of ‘n kers omval, kan dit jou hut aan die brand steek. Alles verbrand tot op die grond binne minute. Daar is nie tyd vir ‘n brandeerwa om op te daag, of vir jou om uit te kom nie. Ons grootste vrees is om wakker te word in ‘n brandende hut en nie in staat te wees om die voordeur betyds oop te maak nie.
Dit het al met baie ander gebeur en dit het amper met my gebeur. Ek het alles in daardie vuur verloor, van my ID boek tot my klere. Dit was ‘n verskriklike slag. Maar dit was ook ‘n draaipunt wat ‘n brandende ambisie binne my wakker gemaak het.
Die goeie Samaritaan het aan my ‘n vragmotor vol planke gegee sodat my kinders vir my ‘n nuwe hut kon bou en daardie vrygewigheid het my hart baie verwarm, maar van toe af, was ‘n plakkershut nooit weer genoeg nie. ‘Ek moet eenvoudig ‘n baksteenhuis hê,’ het ek vir Anthony en Phyllis gesê. ‘Ek wil nie in ‘n plakkershut sterf nie.’ Dit is nog steeds my brandende begeerte.
Ek spandeer soveel van my energie in ‘n poging om my huis reg te kry voordat ek sterf. Dit sal beteken dat ek ‘n plek het waarin ek veilig is en my waardigheid kan behou. Ek wil nie as ‘n arm vrou, in ‘n arm vrou se huis sterf nie.
Om die waarheid te sê, die beste ding sal wees om te sterf wanneer ek 90-en-iets is, want ek wil hierdie huis klaarmaak en dan nog ‘n paar jaar daarin woon. Asseblief, God, laat my leef tot in my 90’s, sodat ek dit alles kan regkry!
Translated by Elna Van Rhyn