Murgpampoentjie Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Murgpampoentjies plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Murgpampoentjies kan direk in die land gesaai word of saailinge kan gedurende die wintermaande gemaak word en sodra die kondisies ideaal is uitgeplant word. Die aanplant van saailinge verseker dat daar meer plante is wat groei en derhalwe ’n vroeër oes.

Spasiëring

Murgpampoentjies moet 50 cm van mekaar af in rye wat 100 cm uitmekaar is geplant word. Dit is omtrent 10000 tot 15000 plante per hektaar. Saad word 5 – 10 cm diep geplant.

Saaityd

Sodra die laaste winterryp verby is, kan murgpampoentjiesaad direk in die land gesaai word. Saailinge kan vanaf Julie in ’n kweekhuis gekweek word en sodra die laaste ryp verby is uitgeplant word. Dit sal ’n vroeër oes verseker.

Planttyd

Murgpampoentjies word gewoonlik vanaf vroeglente tot vroegsomer geplant, Augustus tot begin November. In areas waar daar nie winterryp of temperature bo 30°C is nie, kan dit die hele jaar deur aangeplant word.

Groeiperiode

Dit is gewoonlik agt tot tien weke vandat die saad geplant is totdat die eerste murgpampoentjie geoes word. ’n Volgehoue oes vir ten minste twee weke bevorder die ontwikkeling van die blomme en murgpampoentjies en daar kan vir ’n verdere ses weke geoes word.

Bemesting

Dit is raadsaam om ’n grondanalise te doen en die plaaslike landbouvoorligtingsbeampte se aanbevelings oor bemesting te volg. Dien 350 – 400 kg 3:1:5 (26) of ander kaliumryke mengsel direk voor die aanplanting van die saailinge toe. Dit is dan dadelik tot die plant se beskikking. Indien daar direk gesaai is, moet die eerste bemesting toegedien word as die plante 5 – 10 cm lank is.
Omtrent drie tot vier weke na die eerste toediening kan daar weer dieselfde bemesting gegee word. As drupbesproeiing gebruik word kan die bemesting daardeur toegedien word. Vloeibare kunsmis word gewoonlik in vier of vyf applikasies verdeel en gedurende die groeiperiode gegee. Te veel stikstof bevorder blaargroei in plaas van blomproduksie en dit is dus beter om mengsels met ’n hoër kaliuminhoud te gee.

Besproeiing

Murgpampoentjies kan met oorhoofse sproeiers natgemaak word, maar baie kommersiële produsente gebruik drupbesproeiing aangesien dit water bespaar en die korrekte hoeveelheid water en voedingstowwe aan die plant voorsien. Te veel water op die blare en blomme belemmer bestuiwing en bevorder swamgroei.
Murgpampoentjie wortels is vlak en dit maak die plant sensitief vir waterstres. Dit is daarom raadsaam om ten minste twee keer per week die plante nat te maak sodat die grond vogtig bly. Indien die temperatuur nie toeneem nie is ± 30 mm per week wat in twee besproeiings van 15 mm elk gegee word gewoonlik voldoende. Die grondvog moet gereeld met ’n graaf nagegaan word of vogmeters moet geïnstalleer word. Die ideaal is om waterstres te vermy.

Translated by Ananda Schoeman