Murgpampoentjie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam
Cucurbita Pepo

Plant Beskrywing

In Engels is die murgpampoentjie bekend as courgette, baby marrow of zucchini. Die plant is van die komkommerfamilie (cucurbit) en het effens rankerige stamme met groot, harige, donkergroen blare. Dit is ’n somer-pampoen en het ’n meer bosagtige vorm as die algemene winterpampoene. Die manlike blomme word eerste op die stam geproduseer.
Die vroulike blomme blom ’n bietjie later en het ’n effens bolvormige basis waaruit die murgpampoentjie ontwikkel. Die ranke kan omtrent 1000 mm vanaf waar die saad of saailing geplant is strek. Murgpampoentjies groei relatief vinnig en die gewas kan van so vroeg as agt weke na aanplanting geoes word. Omdat die plant meer bosagtig as die ander komkommerfamilie plante is, kan dit digter opmekaar geplant word.

Gebruike

Murgpampoentjies word meestal op die onvolwasse stadium, wanneer dit sowat 12 - 15 cm lank is, geëet. Dit kan ook langer aan die ranke gelos word en geoes word as dit ongeveer 40 - 50 cm lank is. Dit word egter selde gedoen aangesien die skil verhard en die vleis draderig word. Dit vertraag ook groei en verminder die vorming van blomme wat dus die opbrengs verminder.
Murgpampoentjies kan gebraai, gestoom, gerooster en gepekel word. Die vrugte en blomme word by slaaie gevoeg, op hul eie as groente geëet of in bredies. Dit is ook baie smaaklik om rou te geniet. Dit kan ook fyngemaak en in brood of gebraaide koekies gebruik word.

Grondvereistes en Voorbereiding

Murgpampoentjies gedy in goed gedreineerde grond met ’n hoë organiese inhoud. Die grond moet effens suur wees met ’n pH van 6 tot 7. Die grond moet volgens die grondanalise voorberei word.
Omtrent ses weke voor aanplanting moet die grond tot ’n diepte van 500 mm omgeploeg word. Dit sal normaalweg die vorige oesreste of groen dekgewas, addisionele kompos of mis, kalk indien die pH onder 6 is en superfosfate indien nodig, inploeg. Die laaste week voordat daar geplant word moet die grond met ’n skotteleg gelykgemaak word en enige onkruid terselfdertyd verwyder word.
As die beddings opgeërd word moet dit nou met die toepaslike ploeg gedoen word. Dien enige voedingstowwe toe en ploeg weer met ’n skotteleg om die kluite op te breek en die bogrond verder voor te berei. As saailinge uitgeplant word moet kunsmis toegedien en in die boonste 20 cm grond ingewerk word.

Klimaat

Murgpampoentjies is ’n warm somerklimaat gewas wat normaalweg vanaf die vroeë lente tot die midsomer verbou word. In die noordelike somerreënvalgebiede van Suid-Afrika, waar daar nie swaar ryp gedurende die wintermaande is nie, word dit dwarsdeur die jaar verbou. Dit groei goed in temperature tussen 20°C en 24°C. Hoër temperature sal blaargroei eerder as blomproduksie tot gevolg hê. Vir die goeie ontkieming van murgpampoentjiesaad moet die temperatuur bo 12°C wees.

Kultivars

Daar is verskeie kultivars en F1 kruisings beskikbaar. Die beste manier om op een te besluit wat vir die area se spesifieke groeitoestande geskik is, is om die raad van die plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of saadhandelaar te vra.

Translated by Ananda Schoeman