Murgpampoentjie: Gewasbestuur
Wisselbou
Om peste en siektes te bestry wissel murgpampoentjies met gewasse wat nie van dieselfde komkommerfamilie (Cucurbitaceae) is nie af.
Opbrengs (ton per hektaar)
Konserwatief: 7 ton
Gemiddeld: 12 ton
Goed: 20+ ton
Oes
Murgpampoentjies word met die hand geoes deur dit met ’n mes af te sny. Oes “baba” murgpampoentjies as dit tussen 12 cm en 15 cm lank is. Sommige word selfs geoes as dit nog blom. Die groter murgpampoentjies word as dit 30 – 40 cm lank is geoes. Ander kan gelos word om saad te produseer.
Dit is voordelig om ’n kort stukkie van die stam (10-15 mm) aan te los. Die vog wat in hierdie stukkie agterbly is genoeg om teen na-oes dehidrasie te help. Die murgpampoentjies moet so gou moontlik na die oes na ’n koel skuur geneem word. Dit moet versigtig hanteer word aangesien dit nog onvolwasse is en die skil maklik kan beskadig. Hierdie skade kan die murgpampoentjie onbemarkbaar maak.
Sodra die murgpampoentjies in die pakkamer is word dit gegradeer, gesorteer en verpak. Effens beskadigde en tweedegraadse groente word vir prosessering en bevriesing gebruik.
Berging
Murgpampoentjies kan nie suksesvol vir langer as tien dae gestoor word nie. Die bergingsproses moet so gou moontlik na oes begin word om dehidrasie te voorkom. Die murgpampoentjies word met hidro verkoeling of lugverkoeling teen ’n relatiewe hoë humiditeit van bo 95% afgekoel. Daarna kan dit vir ’n maksimum van 10 dae by 6 - 8°C en ’n relatiewe humiditeit van 95% gestoor word.
Murgpampoentjies is sensitief vir koue en moet dus nie aan temperature onder 6°C blootgestel word nie. Omdat dit op ’n onvolwasse stadium geoes word, is dit hoogs bederfbaar en moet so gou as moontlik bemark word. Die verkoelings prosesse moet tot verbruik streng nagekom word.
Siektes en Plae
Vir die gepaste bestryding van siektes en plae is dit raadsaam om die aanbevelings van u plaaslike landbou-voorligtingsbeampte of u chemiese maatskappy se adviseur te volg. Voorkoming is altyd beter en goedkoper as om later van ’n siekte of plaag ontslae te probeer raak.
Plae
Algemene plae is plantluise (aphids), snywurms (cutworms), vrugtevlieë (fruit fly), bladmyners (leaf miners), rooispinnekopmyte (red spider mites), blaaspootjies (thrips), witvlieë (white flies) en die “epilachna beetle” (tipe liewenheersbesie).
Siektes
Algemene siektes is antraknose (anthracnose), saailing-afsterwing (damping off), donsskimmel (downey mildew), tabakmosaïek-virus (mosaic virus) en poeieragtige skimmel (powdery mildew).
Translated by Ananda Schoeman