Maroela: Meer as Likeur

©Geoff Nichols of SANBI

Maroela (Sclerocarya caffra) se algemene name sluit inkanyi, umganu, mufula en morula in. Die maroela-boom is 'n medium tot groot bladwissellende boom met manlike en vroulike blomme.

In tradisionele gemeenskappe gebruik swanger vroue die bas van die onderskeie spesies om die geslag van hul ongebore babas te bepaal; 'n bereiding van die verpoeierde bas van die manlike boom word vir 'n seuntjie geneem.

‘Umganu’ word deur die Zoeloes gebruik vir die tradisionele genesing van pampoentjies (uzagiga). Die pasiënt moet na die boom gaan en met sy wang teen die boom slaan en drie keer sê: ‘zagiga, zagiga ngiyeke’ - ‘gaan weg pampoentjies’. Daar word beweer dat die pampoentjies binne drie dae sal verdwyn.

Ander mediese gebruike sluit in die gebruik van ‘n konkonsie van die bas om diarree en rumatiek te genees, asook om malaria te voorkom. Die bas word beskou as 'n behandeling vir aambeie en 'n warm infusie van die bas word gedrink as 'n tonikum vir swakheid of moegheid.

Toue word gemaak van die lagie aan die binnekant, net onder die bas, terwyl die hout gebruik word vir kerfwerk, meubels, tromme en jukke. Die maroela boom groei van Ethiopië suidwaarts tot in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika. Dit is ‘n bekende boom in die Ba-Phalaborwa-streek in die Limpopo-provinsie.

Die vrugte en saad word reeds vir eeue gebruik weens sy hoë voedingswaarde en hoë vlakke van vitamien C en minerale. Maroelas word ryp van Januarie tot April.

'n Volwasse boom kan tot 500 kg vrugte in 'n jaar lewer. Die vrugte word vars geëet of verwerk na drankies en konfyt. Die vrugte word opgetel van die grond, gewas en gesny en die pit word verwyder.

Die vrug word gekook totdat die water van kleur verander. Die oorblywende water word verder verwerk tot 'n konfyt, verpak in gesteriliseerde glaspotte en verseël. Maroela konfyt kan 'n rakleeftyd van tot 'n jaar hê indien dit goed verseël word.

Maroela neute is eetbaar en word gewoonlik gerooster. Hulle is voedsaam en bevat ongeveer 25% proteïene, sowel as kalsium (Ca), magnesium (Mg), fosfor (P) en kalium (K).

Die neute word gekraak om die sade te verwyder. Die doppe van die neute kan as plaveisel gebruik word, as 'n deklaag of om vure te maak, terwyl die olie uit die sade (ryk aan antioksidante en vitamiene C en E) in velsorgprodukte gebruik word. Vrugte en blare word as dierevoer gebruik.

Die maroela is 'n gewilde skaduboom en groei maklik uit saad wat in riviersand gesaai word, maar is baie sensitief vir ryp. Dit word geplant in die lente.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes. Dit mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie, en is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Hazel Oliver