Laventel en Lavandin Olie

© Marinda Louw
Laventel is ‘n Mediterreense plant wat nie inheems is aan Suid-Afrika nie. Dit word egter hier geplant en hoë kwaliteit laventelolie word geproduseer en uitgevoer. Die naam ‘laventel’ kom van die Latynse werkwoord lavare wat beteken om te was of te bad.

Daar is meer as een spesies van die laventelplant, wat verwarring veroorsaak tussen laventel en lavandin. Die twee gewildste variëteite is Lavandula angustifolia – ook genoem ‘ware laventel’ of Engelse laventel, en Lavandula dentata – Franse laventel of ‘spike lavender’. ‘n Derde spesies, ‘n hibried van L.angustifolia en L.latifolia, lewer ‘n olie waarna verwys word as Lavandula.

Lavandins is groter plante en word meer gebruik vir hulle soet, effens kamferagtige aroma en is gewild in skoonmaakprodukte en vir sinustoestande. Laventelblomme is soeter van geur en word meer gebruik vir hulle terapeutiese waarde omdat hulle minder kamferagtige samestellings bevat. Laventel kan spanningshoofpyne en velirritasies help verlig, en help met spysvertering. ‘n Koreaanse studie het bevind dat laventelolie slaaploosheid en depressie kan verlig. Industriële gebruike van laventelolie sluit in wasmiddels, reinigingsprodukte en badprodukte as gevolg van die antiseptiese eienskappe wat baie van die algemene bakterieë soos ingewandskoors (tifus), witseerkeel (difterie), streptokokkus, en pneumokokkus kan doodmaak.

Dit is ‘n ontspannende, kalmerende olie wat gebruik word in kosmetiese produkte weens die strelende eienskappe en omdat dit littekens kan voorkom en brandwonde laat genees. Die olie kan skoon gebruik word, maar werk die beste as dit gemeng word met ‘n draerolie en in aangetaste dele ingemasseer word. Lavandin hou ook die senustelsel in orde en mag dien as tonikum vir die senuwees, deurdat dit die senuwees versterk en aktiveer.

Die blomme en stammetjies word in Desember en Januarie geoes, gewoonlik nie op baie winderige dae nie omdat dit die hoeveelheid olie kan beïnvloed. Olies word geproduseer deur middel van stoomdistillasie waardeur vaste stowwe uitgeskei word met behulp van oplosmiddels.
Ware laventel lewer van 8 tot 30kg en lavandin van 40 tot 220kg essensiële olie per hektaar, en 500 tot 1 000kg droë blomstele per hektaar, afhangende van die ligging, bestuur en kultivar. Daar is 48 spesies laventel met honderde genotipes, maar drie spesies word gebruik vir laventel essensiële olie; L. angustifolia, L. latifolia (spika, breë blare) en die L.angustifolia x L. latifolia hibried. Die olies van elkeen is verskillend in samestelling en eindgebruik. Die olie van lavandin hibriede lewer ‘n soeter produk wat gebruik word in parfuum.

Die meerjarige bosserige struik blom in die somer en word gekweek in die Wes- en Oos Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga provinsies. Alle laventels is sensitief vir hoë humiditeit en hoë somertemperature beïnvloed oliekwaliteit negatief. Blomaar laventel hou nie van ryp nie. Plante verkies vol son en ligte, goeddreinerende grond. Moenie te veel water gee nie.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Elna Van Rhyn