Komkommer

© Louise Brodie
Wetenskaplike naam: Cucumis Sativus L
Algemene Naam: Komkommer
In Suid-Afrika word komkommer kommersieel in kweekhuise of op lande verbou. Die algemene reël is dat die groot produsente die komkommers wat verwerk gaan word in lande aanplant en die wat vir die varsproduktemark is gewoonlik in kweekhuise aangeplant word. Dit verseker gewoonlik ’n jaar lange opbrengs.
Die komkommer is net soos die pampoen, waatlemoen en spanspek deel van die Cucurbitaceae familie. Daar word beweer dat komkommer oorspronklik van Suid-Asië en die noordelike dele van Suidoos-Asië af kom.

Plant Beskrywing

Die komkommer is ’n rankplant wat indien dit nie opgelei word nie oor ’n groot area op die grond sal versprei. Die plant het groot, harige donkergroen blare wat effens driehoekig is. Die komkommerplant het ’n sterk penwortel wat tot een meter diep kan groei, maar die meeste van die bywortels is in die boonste 30 cm grond geleë. Die plant dra beide manlike en vroulike geel blomme. Die vroulike blomme het ’n kenmerkende geswelde vrugbeginsel aan die basis van die blom wat later in die komkommer ontwikkel. Daar blom ongeveer 10 manlike blomme vir elke vroulike blom.
Die twee tipes komkommer wat geproduseer word, is die gewone komkommer wat omtrent 20 cm lank is en die Engelse komkommer wat omtrent 30 - 40 cm lank is. Die komkommers is reg om te oes as die algemene deursnee omtrent 4 – 5 cm is.

Gebruike

Die Engelse komkommer word hoofsaaklik vars in slaaie gebruik. Dit het ’n baie hoë waterinhoud en sagte skil. Die gewone komkommer kan vars geëet word, maar moet eers geskil word aangesien die skil taai en effens bitter is. Dit het ’n laer waterinhoud en word gewoonlik verwerk vir ingelegde produkte. Die onvolwasse komkommers word vroeg geoes en gepiekel.
Die komkommer is ’n diuretiese middel en reinig die spysverteringstelsel. Dit breek ook uriensuur af en daar word beweer dat dit goed is vir artritislyers.

Grondvereistes en Voorbereiding

Die komkommerplant gedy in goed gedreineerde sanderige grond met ’n hoë organiese inhoud. Dit is raadsaam om grondmonsters te neem en dit te laat analiseer. Ploeg die boonste 500 mm grond om en werk so die nodige voedingstowwe en organiese materiaal, wat volgens die grondanalise benodig word, in. Dit verseker goeie wortelgroei en dreinering.
Berei die saadbeddings ten minste 4 weke voor aanplanting voor. Dit verwyder onkruid en vorige oesreste. Dit is raadsaam om die saad in beddings wat effens opgeërd is en met ’n swart plastiek deklaag bedek is te plant. Voordat die beddings bedek word moet die drupbesproeiing geïnstalleer word. Die grond se vereiste pH moet ook reg wees en die bemesting in die boonste 20 cm grond langs die plantry met ’n skotteleg ingewerk word.

Klimaat

’n Droë subtropiese tot effens tropiese klimaat is die beste vir komkommer produksie. Grondtemperature bo 15°C word vir eenvormige saad ontkieming benodig. Die beste temperatuur vir die produksie van blomme en vrugte is tussen 20°C en 24°C. Die beste vegetatiewe groei vind tussen 26°C en 30°C plaas. ’n Goeie gemiddeld vir komkommer se groeiperiode sal tussen 22°C en 28°C wees. ’n Hoë humiditeit en gereelde reën is nie goed nie aangesien dit siektes bevorder.

Kultivars

Daar is baie verskillende variëteite komkommer beskikbaar, asook nuwe kruisings. Die variëteite wat goed verkoop speel ’n groot rol. Dit is altyd raadsaam om jou plaaslike saadverskaffer of landbou-voorligtingsbeampte te raadpleeg oor die beste kultivars vir jou omgewing.
Algemene kommersiële variëteite is Ashley, Beit Alpha, Carmen, Cohiba Delft, Long White, Marketmore, Muncher, National, Polaris, Sorolla, Straight Eight, Telegraph, Trimax en Zena.

Translated by Ananda Schoeman