Komkommer Verbouing

© Louise Brodie

Voortplanting

Komkommer plant met die saai van saad voort.

Hoe om te Plant

Direk in die land:
Die mees algemene manier om komkommer aan te plant is direkte saai en dit kan met die hand of meganiese planters gedoen word. Aanplanting word ook gedoen deur komkommer saailinge wat in kweekhuise gekweek is uit te plant.
Kweekhuise:
Komkommer word in kweekhuise deur die saai van saad in saadkassies of uitplanting aangeplant. Dit is goedkoper om saad te saai aangesien die arbeidskoste verbonde aan uitplanting hoër is.

Spasiëring

Direk in die land moet die komkommerplant 30 cm uitmekaar in rye wat 100 cm van mekaar af geplant word. Dit is sowat 30 000 plante per hektaar, maar kan tot omtrent 40 000 vermeerder word.
In kweekhuise kan die komkommerplant 30 cm uitmekaar in rye wat 120 cm van mekaar af geplant word. Dit is sowat 30 000 plante per hektaar. Onder sekere omstandighede kan daar tot 60 000 plante per hektaar geplant word. Ligintensiteit is baie belangrik indien daar ’n hoë plantdigtheid is. Kunsmatige lig word ook soms gebruik.

Planttyd

Komkommersaad en saailinge kan direk in die land na die laaste ryp geplant word. In Suid-Afrika is dit gewoonlik laat Augustus of vroeg September. In kweekhuise kan dit die hele jaar deur aangeplant word solank die lig voldoende is.

Groeiperiode

Goeie gelyktydige saad ontkieming vereis dat die grondtemperatuur minstens 16°C moet wees. Met ’n temperatuur van 16°C vat komkommer saailinge omtrent 14 dae om te begin groei en met ’n temperatuur van 20°C slegs 6 tot 7 dae. Jong komkommers is 6 tot 8 weke nadat dit uitgekom het reg om geoes te word. Normale volgroeide komkommers is vanaf 8 tot 10 weke nadat dit uitgekom het reg om geoes te word. Komkommers ontwikkel vinnig na die eerste oes en dit moet dus daarna gereeld geoes word.

Bemesting

Dit is altyd raadsaam om grondmonsters van die area waar geplant gaan word te neem. Laat die monsters ontleed en volg dan die aanbeveling van die spesialis. ’n Goeie bemesting is ’n 3:1:5 mengsel aangesien komkommer baie kalium benodig.
Drupbesproeiing is die beste vir komkommer produksie en sproeibemesting, die toediening van die kunsmis deur die besproeiingswater, die beste manier om kunsmis toe te dien. Dit help die produsent om die kunsmis gereeld en direk by die wortelsone toe te dien. ’n Deklaag vir die bekamping van onkruid word gewoonlik deur die meeste produsente gebruik en die besproeiing moet dus voordat die deklaag gelê word geïnstalleer word. Stadigvrystellende organiese kunsmis is ook goed en voorsien die plant voortdurend van die nodige voedingstowwe.
Dit is belangrik om met finale voorbereiding van die grond ’n bemesting van ongeveer 500 kg 3:1:5 per hektaar en 300 kg superfosfaat per hektaar in die area in te werk. Dit sal genoeg stikstof aan die saailinge voorsien. Gebruik die grondanalise se resultate om die mikrovoedingstof tekorte vas te stel en indien nodig, dit toe te dien. Dit is belangrik dat die plant genoeg voedingstowwe het as dit begin blom en vrug dra. Indien daar tekorte is, kan daar ’n verlies aan opbrengs wees.
Sodra die plant begin groei en ranke vorm kan ’n verdere 250 kg 3:1:5 per hektaar aan elke kant van die beddings toegedien word. Hierna kan ’n soortgelyke voedingstof toediening net voor die produksieperiode plaasvind. Om mikro-elemente aan te vul kan blaarvoeding gedoen word.

Besproeiing

Besproeiing is van kritieke belang vir goeie produksie, so waterstres moet dus vermy word. As daar direk in die land geplant is kan besproeiing elke tweede dag of daagliks nodig wees. Beide mikrobesproeiing en drupbesproeiing kan gebruik word, maar oorhoofse besproeiing is nie aan te beveel nie aangesien dit die hele plant natspuit en vatbaar vir siektes maak.
Dit is die beste om drupbesproeiing te gebruik, want dit spaar water, is meer akkuraat en die regte hoeveelheid kunsmis kan met sproeibemesting toegedien word. Die komkommerplant kan dit alles meer suksesvol opneem. Met so ’n sensitiewe gewas is die installering van grondvog meetinstrumente die beste, want dit verseker akkurate en stresvrye waterbestuur.

Translated by Ananda Schoeman