Komkommer Gewasbestuur

© Louise Brodie

Wisselbou

Wissel komkommer met peulgewasse of plante van die koolfamilie af.

Opbrengs - Ton per Hektaar

Konserwatief: 15 - 20 ton
Gemiddeld: 20 - 35 ton
Goed: 50+ ton
Kweekhuis produksie kan tot 500 ton per hektar per jaar oorskry.

Oes

As komkommer vir ingelegde produkte gebruik gaan word, word dit meganies geoes. Dit word gewoonlik agt weke nadat dit uitgekom het gedoen en slegs een keer. Die oes van komkommers vir die varsproduktemark word met die hand of met behulp van meganiese oes platforms gedoen. In kweekhuise word daar met die hand geoes.
Komkommer word ongeveer 9 tot 10 weke na aanplanting geoes vir so lank as wat die plant blomme en vrugte produseer. Komkommers vir die varsproduktemark moet ten minste twee keer per week geoes word. Die oestyd kan twee maande lank voortduur. Dit is belangrik om ryp komkommers dadelik te oes, want as dit te lank gelos word verhoed dit die produksie van nuwe blomme en die opbrengs is kleiner. Direk nadat komkommers geoes is, moet dit verkoel word.

Berging

Komkommer moet so gou moontlik geoes, verskeep, verkoop en gebruik word. Indien dit gestoor of vervoer word, moet dit by 10 - 12°C en ’n relatiewe humiditeit van meer as 90% gehou word. Onder hierdie omstandighede kan komkommers tot 14 dae lank vars bly.

Plae

Algemene plae is plantluise (aphids), blaarkewers (leaf beetles), pampoenvlieë (pumpkin flies), slakke (snails), rooispinmyte (red spider mites) en draadwurms (wireworms).

Siektes

Algemene siektes is phytophthora, antraknose (anthracnose), donsskimmel (downey mildew), fusarium verwelk (fusarium wilt), mosaïek-virus (mosaic virus) en poeieragtige skimmel (powdery mildew).

Translated by Ananda Schoeman