Kapokbos

© Peganum
Die kapokbos (Eriocephalus Punctulatus) is een van die minder bekende kamille plante wat gebruik word vir die genesende eienskappe van die olie. Die meer bekende plante wat vir essensiële olies gebruik word is die Duitse en Romeinse kamille, maar die Marokkaanse kamille word ook gebruik. Tegnies gesproke is dit nie ’n kamille nie, maar die asuleen in die plant gee aan die olie die kenmerkende blou kleur geassosieer met kamille olies.
Hierdie inheemse fynbos word herken aan sy vrugtige geur en diepblou kleur wat van die stingels en blare met behulp van stoom onttrek word. Die olie is baie gewild vir die kalmerende effekte en word gebruik vir die behandeling van angs, slaaploosheid en hoofpyne. Tradisioneel is die blare in kussings gebruik om goeie drome aan te help en dit is ook gebruik om slegte geeste uit ’n huis te jaag na ’n sterfte. Dit is anti-inflammatories en kan gebruik word om spier- en gewrigspyne wat verband hou met artritis, neuralgie (senuweepyn, veral in die kop of gesig) en rugpyn te genees. Die olie word in skoonheidsmiddels gebruik vir sy anti-inflammatoriese en strelende eienskappe en as gevolg van die flou smaak kan dit ook as ’n geurmiddel in voedsel gebruik word. Die kapokbos word op die plaas Skimmelberg in Clanwilliam aangeplant, maar dit groei wild in die berge van die Oos-Kaap en Vrystaat.
Romeinse kamille (Anthemis Nobilis) groei organies op die plaas Phandulwazi in die Tyume Vallei naby Hogsback in die Amathole distrik. Die kapokbos kan nie maklik uitgeplant word nie en is sensitief vir baie water. Die blare word een keer per jaar met die hand geoes. Dit gedy in koel, hoë liggende gebiede.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman